21 Life Esidimeni-pasiënte word steeds vermis

Die LUR van gesondheid in Gauteng, dr. Gwen Ramokgopa, het Dinsdag die publiek versoek om die SAPD en die departement van gesondheid te help om 21 vermiste Life Esidimeni-pasiënte op te spoor.

“Die departement het met verskeie staatsdepartemente en wetstoepassersagentskappe saamgewerk en is vasbeslote om die oorblywende 21 pasiënte, wat tussen 2015 en 2016 uit Life Esidimeni ontslaan is, op te spoor,” het sy gesê.

Sy het in 2017 gesê die departement het suksesvol 750 psigiatriese pasiënte van ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas. Probleme om die 21 pasiënte op te spoor, is toegeskryf aan swak boekhouding tydens die projek.

“Ons is besorg oor die status quo en doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om met die polisie saam te werk om ons by te staan om dié pasiënte op te spoor. Ons sal steeds met alle belanghebbendes saamwerk om seker te maak dat ons rekenskap kan gee van almal,” het Ramakgopa gesê.

Sy het gesê die departement het reeds aangeklop by die departement van binnelandse sake, die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), die departement van maatskaplike ontwikkeling en die SAPD. Deur met hospitale in Gauteng en ander provinsies saam te werk, is meer as 100 vermiste pasiënte opgespoor. Ander pasiënte was reeds by hul families.

“Ons sal steeds met die spesiale ondersoekeenheid en ander staatsdepartemente saamwerk om seker te maak ons sluit dié hoofstuk van hierdie tragiese episode,” het sy bygevoeg.

Die Demokratiese Alliansie het intussen gesê talle van hierdie pasiënte het waarskynlik gesterf, net soos die 144 ander pasiënte wat ook gesterf het. “Ek is verstom dat Ramakgopa aanvoer dat daar ‘geen versuim was nie’ om die pasiënte op te spoor, aangesien twee jaar nou reeds verstreke is,” het Jack Bloom, die DA se woordvoerder van gesondheid in Gauteng, gesê. “Dit lyk of die departement ʼn doodloopstraat bereik het en die getal het sedert Julie, toe ek navraag gedoen het, nog nie verander nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

IK ·

Ook glo ek ‘n letterlike doodloopstraat waar die boekhouding van lykshuise seker ook nie watwonders is nie betreffende onbekende persone. Dit is vir ons as mense skrikwekkend maar God weet waar hulle is en dis op die ou end al wat saak maak. Daarom moet naasbestaandes hierin berusting vind. Ja, dis moontlik maklik vir my om te praat want ek is nie in so ‘n omstandigheid. Derhalwe vra ek om verskoning indien my raad onvanpas is.

Johanna Botha ·

En die vrou wat dit alles veroorsaak het loop nog vrylik rond .. . !

Maljan ·

Net so. Ongestoord soos die res van haar makkers op daardie onbevoegdheidstog. Hulle wil die mense opspoor maar name en fotos kan nievrygestel word nie om die mense se menswaardigheid tebeskerm. For the love of Arry. Waar het jy al groter strooi gehoor? NOOD preek immers wet.

PJC ·

Vergelyk hierdie met die sogenaamde doodskis saak dan is dit duidelik hoe die regstelsel in SA nou werk.

Jeremia ·

Hoe ‘n land en sy regering toesig hou oor bejaardes, kinders wie se ouers nie na behore na hulle omsien nie en na mense met psigiatriese behoeftes is ‘n maatstaf van beskaafdheid.
Dit vertel ook ‘n verhaal oor ‘n land se landsburgers.
Die hele sage omtrent hierdie betrokke geval is meer as ‘n skokverhaal.
Die kinders in SA wat nie versorg word, ‘wegraak’, misbruik word of gewoon net op straat ronddwaal is kwessies wat nagevors en vertel moet word.
Dan is daar bejaardes wat uitgebuit en weens gebrek aan versorging ten gronde gaan.
Dit gaan al vir meer as 2 dekades só in hierdie afdraande pad land.

Sarel ·

Hoe lank gaan die saak al aan? Wanneer gaan mense vir die fiasko vervolg word. Gaan dit net ‘n stille dood sterf?

Blommie ·

Jare gelede toe hier nog WET en ORDE in die LAND was. Sou jy in jou wildste drome nooit hoor van so iets nie.
Nou is dit maar te algemeen en net OOPS jammer!
Liewe hemel, dink as dit jou familie lid is wat weg is deur iemand se BOEK FOUT…
Hulle moet so gedagvaar word laat hulle nie kans het om te gaan SIT nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.