21 skole in Wes-Kaap nog gesluit weens stormskade

David Maynier, provinsiale minister van onderwys en skoolhoof Jaco Haasbroek (Foto verskaf deur die DA)

Altesaam 21 skole in die Wes-Kaap was Woensdag nog weens stormskade gesluit. Die grootste oorsaak is weens toegangspaaie wat versper is.

David Maynier, provinsiale minister van onderwys, sê altesaam 249 skole is oor die naweek deur stormskade geraak. “Nege-en-dertig skole is Dinsdag gesluit en dit is Woensdag na 21 verminder.”

Maynier het Woensdagoggend Hoërskool Franschhoek besoek wat steeds gesluit is. “Daar is tans geen elektrisiteit of watertoevoer na die skool nie. Toegangspaaie is oorstroom en dit maak dit vir 650 leerders onmoontlik om klas by te woon.”

Alhoewel ander skole oop is, het talle lae aanwesigheid aangemeld, omdat leerders sukkel om skole in vloedgeteisterde gebiede te bereik. Die voorlopige statistieke wys dat 30,1% van leerders Dinsdag nie in staat was om skool toe te gaan nie. Altesaam 31,4% van leerders kon Woensdag nie skool toe gaan nie.”

Maynier sê beamptes werk saam met skole om seker te maak dat die deure so vinnig as moontlik weer oop kan maak. “Ons moedig ouers aan om in kontak te bly met hul skool vir besonderhede rondom sluitings.”

Die skole sal ook inhaalplanne van stapel stuur om seker te maak dat die leerders nie agterstallig raak met die skooldae wat hierdie week verloor is nie. Skole sluit Vrydag vir die lentevakansie en dit sal ruimte skep vir herstelwerk en om toegang te herstel.

Altesaam 150 skole uit die 249 skole wat deur die storm geraak is, het skade aan infrastruktuur aangemeld. Dit strek van geringe lekkasies tot groot skade aan dakke. “Ons probeer tans die omvang van die skade bepaal,” sê Maynier.

Hy het ook sy meegevoel betuig met die families van die drie leerders wat oor die naweek in die storm oorlede is. Berading is aan die skole gebied.

“Ons bedank die nooddienste, ons [provinsiale] regering, niereregeringsvennote en ons skole vir die bystand wat hulle lewer aan ons onderwysers, leerders en ouers ná ʼn verwoestende storm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Ek dink 80% van die leerders van geaffekteerde skole neem ‘n ekstra-lang langnaweek tussen “Erfenisdag” en die skoolvakansie wat in elk geval die 30ste begin, of hulle nou toegang tot skole het en of daar nou infrastruktuur-skade is, al dan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.