21 vrae oor landwye afsondering beantwoord

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand afgekondig dat ’n algehele landwye afsondering (lockdown) vandeesweek vir 21 dae in Suid-Afrika ingestel sal word in ’n poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te keer.

Dit is die heel eerste keer in Suid-Afrika se demokrasie van byna 26 jaar dat ’n algehele landwye afsondering in die land ingestel word. Maroela Media beantwoord ʼn paar vrae oor die unieke situasie.

Wat behels die instel van ’n landwye afsondering?

’n Algehele landwye afsondering (lockdown) is ’n noodprotokol wat verhoed dat mense ’n gegewe gebied verlaat. In dié geval mag Suid-Afrikaners nie hul huise vir die volgende 21 dae verlaat nie, behalwe om apteke, kruidenierswinkels, dokters of vulstasies te besoek.

Alle nie-noodsaaklike aktiwiteite word vir dié tydperk opgeskort.

Wanneer tree die landwye afsondering in werking?

Ramaphosa het verduidelik die landwye afsondering word Donderdag omstreeks 00:00 ingestel. Dit beteken dat Suid-Afrikaners dus vanaf Vrydagoggend 00:01 hul huise nie onnodig mag verlaat nie. Die afsondering geld tot dusver tot 16 April 00:00.

Argieffoto: Pixabay

Wie is uitgesluit van die afsondering weens die aard van hul werk?

Volgens Ramaphosa geld dié regulasies nie vir werkers wat noodsaaklike dienste lewer nie Dit sluit in gesondheidswerkers in die openbare asook private sektor, noodpersoneel soos paramedici, diegene in sekerheidsdienste soos die polisie, metropolisie, verkeersbeamptes, soldate en mediese personeel in die weermag.

Dit geld ook nie vir diegene betrokke by die produksie, verspreiding en verskaffing van kos en basiese goedere, noodsaaklike bankdienste, die instandhouding van krag, water- en telekommunikasiedienste, laboratoriumdienste en die verskaffing van mediese en higiëneprodukte nie.

’n Volledige lys van noodsaaklike dienste is hier beskikbaar.

Wanneer mag Suid-Afrikaners hul huise verlaat?

Suid-Afrikaners sal oor die volgende drie weke slegs hul huis onder streng beheerde omstandighede mag verlaat wanneer hulle kos, medikasie of mediese hulp nodig het óf ’n maatskaplike toelaag moet ontvang.

Mag ek gaan draf of met my hond gaan stap?

Nee. Die minister van polisie het dit baie duidelik gemaak dat niemand uit hul huise mag gaan om te draf, stap of fietsry nie.

Argieffoto

Watter winkels, ondernemings gaan oop wees?

Volgens Ramaphosa sal alle winkels en ondernemings oor die volgende drie weke gesluit wees behalwe kruidenierswinkels, apteke, vulstasies, laboratoriums, banke, noodsaaklike finansiële betalingsdienste insluitend die JSE en gesondheidsorgverskaffers.

Mag ek van die huis af werk?

Ramaphosa het gedurende sy toespraak gesê ondernemings wat in isolasie met hul werk kan voortgaan sonder om die maatreëls te verontagsaam, mag wel oop bly.

Wat van hawelose mense wat geen heenkome het nie?  

Tydelike skuilings wat aan die nodige higiëne-standaarde voldoen, sal vir haweloses geïdentifiseer word. Hulle sal oor die volgende drie weke in die skuilings gehuisves word. Daar word ook voorsiening gemaak vir diegene wat nie hulself kan isoleer of in kwarantyn in hul huise kan geen nie.

Wat as ek die land gedurende dié tyd binnekom?

Enige landsburgers wat Suid-Afrika binne die volgende drie weke vanuit hoërisikolande binnekom, sal outomaties vir 14 dae lank in kwarantyn geplaas word. Buitelanders vanuit hoërisikolande word nie in die stadium in Suid-Afrika toegelaat nie.

Buitelanders wat ná 9 Maart vanuit hoërisikolande die land binnegekom het, moet in hotelkamers bly totdat hul kwarantyntydperk van 14 dae verstryk het.

Sassa-betalingsdag by Embuzini (9 Oktober 2018) Foto verskaf deur die SA Poskantoor

Wat van Sassa-begunstigdes?

Sassa-begunstigdes sal steeds hul toelae by betaalpunte kan gaan afhaal. Lede van die weermag sal net sekermaak nie meer as 100 mense is daar op een slag nie. In poskantore is dit nie meer as 50 mense nie.

Ouer mense en mense met gestremdhede sal hul toelae op 30 en 31 Maart kan afhaal waarna alle ander toelae vanaf 1 April beskikbaar sal wees.

Geen aansoeke vir maatskaplike toelae sal egter gedurende die volgende 21 dae verwerk word nie.

Mag ek nog op vakansie gaan?

Nee. Alle hotelle en vakansieoorde is toe. Die SAL het ook al hul vlugte internasionaal en plaaslik opgeskort. Die meeste parke en lugrederye het maatreëls getref sodat jy jou bespreking kan verander sonder om geld te verloor.

Gaan vullisverwyderingsdienste voort?

Ja. Noodsaaklike dienste sluit munisipale dienste in soos vullisverwydering en die voorsiening van water en elektrisiteit.

Mag ek trek?

Nee. Almal moet bly waar hulle is. Verhuurders is aangesê om huurders tegemoet te kom indien hul kontrakte verstryk.

Hoe doen ek aansoek vir hulp vanaf die regering as ek ʼn klein besigheid het?

Besoek die webtuiste http://www.smmesa.gov.za/ en vul die aansoekvorm in. Die webtuiste gee egter gedurig probleme.

Sal binnelandse sake oop wees?

Ja, maar net om tydelike ID’s of tydelike geboortesertifikate uit te reik. Doodsertifikate  sal ook uitgereik word sodat mense begrawe kan word. Geen paspoorte of huweliksertifikate sal uitgereik word nie.

(Argieffoto)

Wat gebeur as ek die reëls oortree?

Jy kan tronk toe gaan vir ses maande, of ʼn boete opgelê word of albei.

Sal openbare vervoer werk?

Alle langafstand-treine, vlugte en skeepvaarte is opgeskort. Ook Metrorail en die Gautrein is opgeskort. Taxi’s sal sekere tye van die dag mag werk om mense wat noodsaaklike dienste verrig, werk toe te vat.

Sal die howe voortgaan?

Die howe sal voortgaan om dringende sake te hanteer. Ook net sekere hofpersoneel sal toegelaat word. Beskuldigdes sal deur middel van ʼn videoskakel uit die tronk aan die verhoor deelneem.

Mag ek kerk toe gaan?

Nee. Alle kerke, filmteaters, winkelsentrums en parke moet gesluit bly vir die publiek.

Is ek verplig om myself te laat toets indien ek siek is?

Ja. Indien jy weier om jou te laat toets wanneer daar goeie rede is om te glo dat jy die virus onder lede het, kan jy ook tronkstraf opgelê word.

Wat van begrafnisse?

Begrafnisdienste en lykshuise maak deel uit van die lys van noodsaaklike dienste. Nie meer as 50 persone word per begrafnis toegelaat nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

minniemuis ·

Mag n mens in jou tuin wees, mag die kinders buite speel indien jy in n omheinde perseel woon?

Jaco ·

Die vet weet, want elke uur dan verander hulle die reëls…

Jaco ·

Mag ek darem uitgaan om my sypaadjie skoon en netjies te hou, die die gras daarop te sny en my vullisakke uitvat?

Johan Venter ·

Maar mens sal darem kan stap of draf om by die kruidenierswinkel so ‘n paar kilometer van jou af ‘n brood te gaan koop, of tjips. Dalk ‘n vleispastei?

Johan Venter ·

Asgat, daar word nie per die regulasies gespesifiseer hoe mens by die kruidenierswinkel moet uitkom nie, party het nie vervoer nie, dan stap hulle, niks kan jou keer of mens nou daarheen draf of stap nie. Dus gaan ek nie by die huis uit OM te draf of OM te stap nie maar OM kos/’n brood te gaan koop, dan stap ek maar ‘toevallig’. Ons het ‘n Spar so 2 kilometer van ons af, so dis dit.

Johan Venter ·

Jaco, as ek jy is maak ek eers seker dat daar nie ‘n kar van die verkeerspolisie in die straat geparkeer is nie, nou en dan verbyry, luister ook of jy nie ‘n helikopter in die omgewing hoor wat dalk met spioenasie en waarnemings toerusting toegerus is nie. Dan is mens ook nie seker of die veiligheidsdienste van Google Maps se ‘satellite’ en ‘streetview’ funksies gebruik maak om mense se aktiwiteite te monitor nie.

Michael 1 ·

Dit klink reg as jy gedisiplineerd is maar die meerderheid land bewoners steur hulle aan geen reels en regulasies nie want dit is die eerste ding wat die anc afgebreek het met oorname.

Johan Venter ·

Vir kennisname. Ek trek nou hierdie van Netwerk24 se webwerf af: Jy kan winkel toe draf, stap of fietsry om te gaan kos koop, maar jy kan nie sommer net vir oefening op jou eie gaan hardloop, stap of fietsry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.