22 reeds afgelope week in Wes-Kaap doodgeskiet

Vuurwapengeweld het die afgelope week weereens talle lewens in Kaapstad geëis. (Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Voortgesette vuurwapengeweld in die Wes-Kaap het die afgelope week die lewe van minstens 22 mense geëis, onder wie verskeie kinders.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het sy skok en woede oor die geweld te kenne gegee nadat nóg ʼn slagoffer Dinsdagaand in Delft doodgeskiet en twee mense ernstig gewond is. Een van hulle is ʼn 13-jarige meisie.

Die voorval volg kort nadat jong kinders ook die afgelope naweek in Beacon Valley, in Mitchells Plain, doodgeskiet is. Volgens Fritz lyk dit of die voorvalle bendeverwant is.

Die slagoffers is onder die altesame 22 mense wat sedert die naweek in Kaapstad in vuurwapengeweld dood is. Drie mense het ook weens steekwonde gesterf.

“Ek veroordeel die moorde – veral dié op kinders – deur bendelede ten sterkste. Ons weet dat bendelede kinders gebruik om baie van hul werk te doen en dit moet stopgesit word,” sê Fritz.

“Ons plaas ons kinders se lewe in ernstige gevaar. Ek doen ʼn beroep op die polisie om alles moontlik te doen om die oortreders van hul gruweldaad aan te keer.”

Fritz het ook sy medelye met die ouers en familielede van die slagoffers betuig.

“Die verlies van ʼn kind is die ergste nagmerrie waardeur enige ouer kan gaan,” sê hy.

Fritz het ʼn beroep op die gemeenskap en breër samelewing gedoen om saam te staan en die bendebedrywighede en vlaag geweld te stuit.

“Ek pleit by enigiemand met inligting wat die polisie kan help om asseblief na vore te kom.”

Sowat twee weke gelede is 11 mense boonop op een dag in Khayelitsha vermoor. Die moorde het op verskillende plekke plaasgevind, maar alle aanduidings was dat dit met mekaar verband gehou het.

Fritz het in Februarie vanjaar boonop gesê 11 van die 30 polisiestasies waar die meeste moorde landwyd aangemeld word, is in Kaapstad. Die polisiestasies het ook meer as die helfte van alle moorde by al 30 stasies aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Carel Aaron

Bheki Cele vind uit of daar enige wettige wspens betrokke was.
Kry eers die onwettige wapens van die strate af ou seun.

Persheks Adri

En hoedeman wil ons ontwapen pffft maar stop nie die kriminele om mense dood te skiet nie. Toe hoed gaan soek bietjie daardie wapens!

David

Ek dink al dié skietvoorvalle was waarskynlik gepleeg met onwettige wapens.

Kokerboom

Die voortslepende bendegeweld in Weskaap weerspieel net die totale gebrek aan toewyding en ernstigheid van die nasionale regering om die rampokkery stop te sit. Kan dit wees dat die ANC dit doelbewus onderduims toelaat om die provinsie te destabiliseer? Vra net

Elize

Ag ja toe dis tussen die spul kriminele en die vuurwapens is seker almal onwettig. Konsentreer daarop en los onskuldige mense met wettige wapens uit. Dwelms maak ook mense dood en al is dit onwettig word hulle nog steeds ryk daaruit