23 vas vir stropery in Kruger-wildtuin

Argieffoto Foto: wwf.panda.org

Altesaam 23 verdagtes is die afgelope twee weke in die Kruger-wildtuin in verband met renosterstropery in hegtenis geneem.

Glenn Phillips, uitvoerende hoof van die wildtuin, het Maandag gesê dié inhegtenisnemings volg in afsonderlike voorvalle sedert 19 Julie toe Respect Mathebula (34), ʼn wildbewaarder, deur stropers in die park doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig Mathebula en van sy kollegas het met die hulp van hul honde-eenheid ʼn groep stropers nagespoor en op hulle afgekom. ʼn Skietgeveg het uitgebreek waartydens Mathebula in die bolyf gewond is. Die verdagtes het ontsnap. Mathebula is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem, maar het op pad daarheen aan sy beserings beswyk.

“Daar was aanhoudende stropingsaktiwiteite sedert Mathebula se afsterwe. Dié inhegtenisnemings is ʼn teken dat ons wildbewaarders sterk staan ná die tragiese verlies van ʼn kollega. Die inhegtenisnemings dien ook as ʼn teken van respek vir gevalle bewaarders.”

Volgens Phillips is geen verdagte tydens die inhegtenisnemings geskiet of gewond nie. “Dit is ʼn duidelike aanduiding van ons bewaarders se professionaliteit en dissipline.”

Tydens die inhegtenisnemings het die wildbewaarders beslag gelê op tien hoëkaliber-gewere en gereedskap wat gebruik word om renosters mee te onthoring.

Die verdagtes staan tereg op aanklagte wat verband hou met renosterstropery en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tammy ·

Baie geluk aan die spanne met die inhegtenisname van so baie stropers. Uitstekende werk, ons is trots op julle, hou so aan, hulle sal een of ander tyd opgee!!!!Renosterstropers verdien die doodstraf!!

christa ·

hoop darem die bewaarders het ietsie ekstra gekry vir hulle goeie werk

Mossie ·

Wonderlik!!!
Baie dankie vir julle liefde en ondersteuning en bereidwilligheid om vir SA se wilde diere te veg.
Ek weet dit voel soos n onbegonne taak, tog gee jul optrede hoop dat daar voorentoe n deurbraak sal wees en om stropery so ver moontlik onder beheer te kry.
Baie baie dankie vir julle manne wat aanhou veg!!

De Villiers ·

Uitstekend, en dankie aan die wildbewaarders. Dis jammer dat net die pionne gevang word, maar nie die meesterbreine en eindkopers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.