Sowat 25 mense is Sondagmiddag beseer toe ʼn minibustaxi en drie ander voertuie op die R57-pad digby Heilbron in die Vrystaat in ʼn ongeluk betrokke was.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het omstreeks 14:40 met hul aankoms op die toneel een voertuig in die pad aangetref terwyl die taxi en twee ander voertuie langs die pad was. Van die insittendes was in die voertuie vasgekeer, terwyl ander op die toneel rondgeloop het.
“Die provinsiale brandweerdiens moes meganiese toerusting gebruik om van die insittendes uit die voertuie te bevry,” sê Meiring.
Altesaam vier mense het kritieke beserings opgedoen terwyl ongeveer twintig geringe tot matige beserings opgedoen het.
“Paramedici het die beseerdes op die toneel behandel voordat hulle per ambulans na nabygeleë hospitale geneem is. Verskeie pasiënte met ligte beserings wou nie die ambulans na die hospitaal neem nie.”
Die omstandighede wat aanleiding tot die ongeluk gegee het, word ondersoek.
Jy kan amper van enige ongeluk lees in SA en daar is ‘n taxi betrokke.
Alweer ‘n taxi wat die ongeluk veroorsaak het, die pad behoort mos aan hulle. Jammer vir die mense wat seer gekry het in die ongeluk.