26 het Covid-19 in Oos-Londen-tronk

Argieffoto

Altesaam 26 persone by die Medium C-vrouesentrum in Oos-Londen het positief getoets vir Covid-19. Nog uitslae word verwag van persone wat getoets is.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê 23 beamptes en drie oortreders het tot dusver positief getoets vir die virus.

Dit kom ná ʼn massa-toetsing by die sentrum nadat die eerste positiewe geval op 6 April 2020 aangemeld is. “Die beampte wat positief getoets het, het ʼn begrafnis bygewoon waar sy in kontak was met internasionale besoekers. Dertig personeellede wat met haar in kontak was, is in kwarantyn geplaas toe die uitslag nog nie bekend was nie. ʼn Tweede positiewe geval is op 8 April 2020 aangemeld toe ʼn beampte haar uitslae van ʼn privaat laboratorium bekom het,” het Phiri verduidelik.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het op 8 en 9 April 2020 altesaam 268 oortreders en 266 personeellede by die gevangenis getoets. Nog 193 oortreders is Saterdag getoets en die oorblywende 46 oortreders sal Maandag getoets word.

“Ons het dadelik stappe gedoen om te voorkom dat die virus verder versprei. Ons het enkelselle geïdentifiseer binne Medium C wat as kwarantyn- en isolasiegebiede gebruik sal word. Die beamptes wat in dié gebiede werk het die nodige beskermingstoerusting ontvang,” het Phiri bygevoeg.

“Ons weet dat van die oortreders sterk betoog het teen die afsonderingsmaatreëls, waaronder dat besoeke in alle sentrums verbied word, maar die riglyn is opgestel om oortreders en beamptes teen Covid-19 te beskerm,” het hy gesê. “As dit nie was vir die afsonderingsmaatreëls wat in plek was nie, sou die virus waarskynlik verder versprei het in die provinsie.”

Altesaam 20 559 oortreders was op 1 April 2020 agter tralies in die Oos-Kaap. Landswyd het die departement 154 437 gevangenes. “As die departement van korrektiewe dienste bly ons verbind daartoe om seker te maak dat alle oortreders toegang het tot goeie gesondheidsorg. Ons sal ook steeds bly seker maak dat oortreders teen Covid-19 beskerm word, maar ons vereis ook hul samewerking sodat ons saam veilig kan wees teen die virus.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
antieke antie

hulle kan nou sommer die tronk n klinik maak

Michael 1

Ek sal dit nou nie as n preoriteit sien nie in ag geneem dat SA tronke 150% oorvol is.