26 in hof oor Sassa-bedrog

Van die 23 amptenare en begunstigdes van Sassa Maandag in die hof. (Foto: Verskaf)

Altesaam 23 amptenare en begunstigdes van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het Maandag saam in ʼn hof verskyn op aanklagte van bedrog en diefstal.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê die verdagtes, almal tussen die ouderdom van 31 en 54, het in die streekhof in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga verskyn.

Die verdagtes is almal voorheen in hegtenis geneem ná ʼn ondersoek van die Valke na korrupsie by Sassa waarna hulle ʼn dagvaarding ontvang het om in die hof te verskyn.

Volgens Sekgotodi het amptenare van Sassa in April 2016 persone gewerf om hul identiteitsdokumente in te dien.

“Hierdie dokumente is gebruik om die persone te registreer vir ongeskiktheidstoelaes wat goedgekeur is vir maandelikse paaiemente waarvan die amptenare egter slegs ʼn gedeelte aan die begunstigdes uitbetaal het en die res van die geld vir hulself gehou het.

Die saak is gevolglik by die Valke aangemeld en ’n ondersoek het aan die lig gebring dat die gewerfde begunstigdes in werklikheid nie ongeskik was nie, hoewel hulle as sodanig geregistreer is.”

Die saak is Maandag tot 4 September uitgestel sodat die aangeklaagdes regsverteenwoordigers kan aanstel.

Matholeni Sydwell Masilela, Brian Mfundo Masina en Moses Khumalo (Foto: Verskaf)

Drie ander verdagtes het intussen Maandag in die landdroshof in Mbombela verskyn in verband met ’n kuberaanval op Sassa se aanlyn stelsel.

Matholeni Sydwell Masilela (40), Brian Mfundo Masina (28) en Moses Khumalo (36) staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog, sameswering om ’n oortreding te pleeg en die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie.

Dié saak is tot 7 Augustus uitgestel. Die drie mans sal na verwagting dán aansoek om borgtog doen.

Maroela Media het vroeër berig Masilela, Masina en Khumalo is verlede maand in hegtenis geneem nadat hulle glo saamgesweer het om geld te steel deur by die Sassa-stelsel in te breek en toegang tot die organisasie se rekeninge vir begunstigdes te verkry.

Tydens die inhegtenisneming is daar beslag gelê op ’n elektroniese toestel wat gebruik word om inligting te bekom, ’n skootrekenaar, ’n skandeerder, Sassa-kaarte asook die voertuig van een van die verdagtes.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wondermaarnet ·

Sê niks dan is daar niks, want nou gaan daar seker 7 kommissies aangestel word om ondersoek in te stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.