26 munisipaliteite strafregtelik verkla oor rioolstortings

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Die departement van water en sanitasie het glo altesaam 36 strafregtelike sake teen 26 munisipaliteite aanhangig gemaak vir hul aandeel in rioolstortings wat omgewingswetgewing oortree.

Dit sluit in munisipaliteite in onder meer die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mpumalanga.

Die grootste oortreders is egter munisipaliteite geleë in Limpopo en Noordwes. Dié munisipaliteite word beskuldig van langtermyn-rioolinfrastruktuurfoute wat die besoedeling van rivier- en grondwaterstelsels veroorsaak het.

ActionSA verwelkom die stappe wat reeds gedoen is.

“Maar dit gaan nie naastenby ver genoeg nie,” sê Michael Beaumont, nasionale voorsitter van ActionSA en lid vir infrastruktuur. “Hierdie aanklagte kom neer op weinig meer as die nasionale regering wat sy eie bas probeer red.”

Volgens Beaumont is daar al voorheen aanklagte in hierdie verband teen munisipaliteite aanhangig gemaak “en in die geval van die paar wat wel tot vervolging gevorder het, is die aanklagte bloot afgeskaal tot aansienlike boetes”.

“Dus, een regeringsvlak beboet ʼn ander regeringsvlak en die inwoners van hierdie riool-oorstroomde gemeenskappe moet dan munisipale begrotingstoewysings prysgee wat hierdie kwessies sou kon aanpak.”

Beaumont sê die stryd teen mislukte munisipaliteite kan nie met kinderhandskoene aangepak word nie.

Volgens hom behoort skuldige munisipaliteite summier onder administrasie geplaas te word sodat bevoegde administrateurs aangestel kan word om te verseker dat hierdie planne in werking gestel word.

Beaumont sê die vriendskaplike bande tussen regeringsvlakke onder leiding van die ANC is ʼn groot deel van die probleem. “Die verhouding tussen regeringsvlakke, soos in die Grondwet in die vooruitsig gestel, was bedoel om aanspreeklikheid te verskaf wanneer daar op die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners inbreuk gemaak word.

“Suid-Afrikaners het ʼn grondwetlik beskermde reg op veilige water vir huishoudelike verbruik, op gesondheid, op ekonomiese ontwikkeling deur landbou en toerisme, en om hul omgewing te geniet,” sê Beaumont.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Die tragiese van strafregtelike klagte is dat dit te min te laat is!Hoekom nou eers?Sal iets ooit daarvan kom. Die hele stelsel is kop in een mus. Jy kan nie speler en skeidsregter tegelyk wees.
Administrasie is ‘n klug!
Daar is NIE kundigheid provinsiaal of sentraal
Verwyder net die oorsake van al die land se probleme: Die ANC
Die opposisie kan gerus saamwerk en ophou in die boks ipv uit die boks kyk

Andries ·

O my goeiste! Dis mos amper verkiesingtyd… So di regering moet sy “erns” rondom di spesifieke kwessie “bewys”. Vergeet van bv di Vaal rivier. Dis mos n geringe probleempie en selfs na miljoene Rand, het di weermag ni enige iets vebeter ni. Gegewe di verlede, sal di aanklagte of stof vergaar, Of weens gebrek aan bewyse, in di lêer 13 beland…

Henk ·

Maak asb die betrokke munisipaliteite se name bekend. Die onderskeie dorp- of stadsbewoners behoort op hoogte gehou te word van die wan praktyke van hul munisipale amptenare!!

Amelia ·

En so gaan erfbelasting op en inwoners betaal self vir munisipaliteit se probleme plaas die munusipaliteits se name en onder watter politieke party val hulle Kan dink wie maar kom ons maak seker

Boon ·

Net ‘n federale stelsel sal die land se probleme oplos. Dit beteken dat plaaslike bestuur deur plaaslike mense gedoen word, en verantwoordelik is vir hul dade. Dit betekend die provinsie verskaf sekere dienste soos deur die kiesers verlang. soos bv. onderwys, gesondheid, beskerming, vervoer. Nasionaal is beperk tot internasionale sake, soos buitelandse beleid, uitvoer, Reserwebank, wetgewing , belasting, ens ens. Die punt is dat die regering so na a moontlik aan die mense/kiesers/inwoners/belastingbetalers moet wees en NIE gesentraliseer in PRETORIA nie.Baie lande volg hierdie stelsel met groot sukses en sonder oorlog en gedurige opstande en agteruitgang en despote wat die land skaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.