26 uur in motorwrak: ‘My lewe is ʼn seën’

Melisa Biggs by haar dogter, Selanna. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Ek weet dat my lewe ʼn absolute seën en wonderwerk is. Ek gryp dít ten volle aan en doen my bes om ook lig in ander se lewens te bring.”

Só het Selanna Biggs (20) Vrydag by haar huis in Mbombela, Mpumalanga, aan Maroela Media gesê.

Dit sal in April ʼn jaar wees sedert Biggs, ʼn webontwikkelaar, uit ʼn motorwrak gered is waarin sy 26 uur lank vasgekeer was.

Hoewel Biggs steeds die trauma van haar angswekkende ervaring verwerk, is sy gelukkig en uiters dankbaar dat sy ʼn “tweede kans” gegun is.

Maroela Media het vroeër berig dat Biggs weens die slegte toestand van die pad beheer oor haar Suzuki S-Presso verloor het en in ’n plantasie langs die Kaapsche Hoop-pad beland het waar sy vir meer as ’n dag vasgekeer was.

Sy kan steeds “die koue” en die oorweldigende gevoel van hulpeloosheid onthou terwyl sy in die wrak vasgekeer was. Deur die nag het sy die geluide van wilde diere hoor.

“Ek was heeltemal lam. Ek kon niks doen en nêrens uitkom nie. Ek het ook gereeld my bewussyn verloor en was heeltemal buite voeling met tyd.”

Haar ma, Melisa, sê die hele voorval was soos ’n “slegte fliek”.

“Ek onthou hoe verlig ek was toe ek mense se stemme gehoor het. Dis ʼn gevoel wat ek nie werklik in woorde kan omskryf nie. Al wat ek geweet het, is ‘ek is oukei’,” sê Biggs.

Sy is steeds in verbinding met die paramedikus wat destyds saam met haar in wrak geklouter en haar hand vasgehou het. Sy weet ook dat dit ʼn reusespanpoging was om haar motor – wat boonop op die rand van ʼn steil krans gewankel het – te beveilig en haar daaruit te bevry.

Selanna Biggs (20). (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Ek sal nooit genoeg kan dankie sê aan almal wat by my redding betrokke was nie.

“Daar is ná die tyd vir my gesê dat indien iemand nié my motor gesien het nie, ek nie die nag sou oorleef het nie.”

ʼn Verbyganger het haar motor omstreeks 17:00 opgemerk en dit was toe al besig om sterk skemer te word, vertel Melisa.

“Sy is net betyds gevind. Dit het twee uur geneem om Biggs uit die wrak te bevry. Haar motor moes boonop met toue aan omliggende bome vasgemaak word sodat die voertuig nie by die krans afstort nie.

“Reddingswerkers moes haar uit die wrak sny. Die hele reddingspoging het soos ʼn goed geoliede masjien geloop al was daar soveel verskillende reddingspanne en nooddienswerkers betrokke. Almal het goed saamgewerk. Ons kry nog steeds soveel ondersteuning.”

Melisa en haar man, Jason, is aangeraai om nié na die ongelukstoneel te gaan nie, maar by die hospitaal vir hul dogter te wag.

“Dit was so ʼn moeilike besluit,” sê Melisa.

Biggs onthou dat sy dadelik na haar gesin gevra het.

“Ek wou weet waar my ouers en broer (Asher, 22) is sodat ek vir hulle kon sê ek is oukei.”

Biggs verduur steeds fisieke pyn en moes al verskeie operasies ondergaan om haar gebreekte femur te heg.’n Plaat is ook in haar gebreekte toon gesit.

“Ek kan nog glad nie om my linkerkant lê of slaap nie. Dit is maar nog baie seer.”

Sy ontvang gereeld fisioterapie en sê dat haar rehabilitasieproses nog lank gaan duur.

Biggs is egter positief oor haar herstelpad en vier elke dag die wonderwerk dat sy oorleef het.

“Ek maak die beste van my tweede kans.

“Dit het my ook geleer om werklik empatie te hê met enigeen wat al trauma ervaar het of ʼn fisieke stryd voer,” sê die borrelende jong vrou.

Sy hoop dat haar lewensverhaal ook ʼn verskil in ander se lewens sal maak.

“Ek wil hê mense moet weet daar is hoop. Hou moed, bly gelukkig en wees dankbaar as jy ʼn tweede kans in die lewe kry. Dit is eintlik maklik om ʼn verskil in die wêreld te maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Wat ‘n wonderlike en mooi positiewe verhaal. Sterkte Mariska met jou pad van herstel. Weereens ‘n bewys dat Niks onmoontlik is by Ons Hemelse Vader nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.