26 vas oor stakingsgeweld, intimidasie

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Altesaam 26 mense is in Gauteng in hegtenis geneem in verband met intimidasie, openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging tydens die staking in die metaal- en ingenieursbedryf.

“Die persone is in hegtenis geneem in verband met misdade wat die afgelope drie dae gepleeg is,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê.

Altesaam 19 persone is in Elandsfontein aan die Oos-Rand in hegtenis geneem nadat betogers, wat glo deel is van die staking, ʼn hek by ʼn onderneming afgebreek het. Toe die polisie opdaag, het die skare hulle voertuie met klippe bestook. Polisiebeamptes moes van rubberkoeëls gebruik maak om hulle te verjaag.

Nagenoeg 2 000 stakers het Donderdag op ʼn onderneming in Benoni toegeslaan en toerusting en rekenaars beskadig. Die skade beloop ʼn paar miljoen rand.

Nege mense is in Wadeville aan die Oos-Rand in hegtenis geneem nadat hulle glo vensters by ʼn sakeonderneming gebreek het.

“Alhoewel dit ʼn beskermde staking is, sal geweld nie geduld word nie en die polisie is gereed om in te gryp,” het Dlamini gesê.

Die National Union of Metalworkers of SA (Numsa), die meerderheidsvakbond in die metaal- en ingenieursbedry, het Dinsdag met ʼn onbepaalde staking begin. Verskeie kleiner vakbonde het intussen by die staking aangesluit. Numsa eis ʼn eenjaarooreenkoms met ʼn verhoging van 15% en ʼn behuisingsubsidie van R1 000. Hulle eis ook dat arbeidsmakelaars afgeskaf moet word.

Seifsa, die Steel and Engineering Industries Federation of SA, die grootste werkgewersorganisasie, het Donderdag ʼn driejaarooreenkoms met ʼn verhoging van tussen 8% en 10% aangebied vir die eerste jaar.

Neasa, die National Employers’ Association of SA, bied 8% aan. Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, het gesê bykans die helfte van die maatskappye het reeds voorvalle van geweld en intimidasie aangemeld.

Kaizer Nyatsumba, uitvoerende hoof van Seifsa, het glo twee keer aan die polisiekommissaris Riah Phiyega geskryf om die polisie te versoek om gereed te maak vir ʼn moontlike gewelddadige staking. Lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder vir Phiyega, het Vrydag bevestig hulle het die briewe ontvang.

Seifsa het ook sy kommer uitgespreek dat Numsa geweier het om ʼn vredesverdrag te onderteken en die saak is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

Numsa was nie Vrydag vir kommentaar beskikbaar nie. Castro Ngobese, woordvoerder vir Numsa, het egter Donderdag in ʼn verklaring ontken dat Numsa-lede die misdade gepleeg het.

Intussen het Johan Pieterse, hoof uitvoerende beampte van die Plastics Convertors Association of SA (PCASA), in ʼn verklaring gesê sy organisasie en die National Employers’ Association of South Africa (NEASA), die Border Industrial Employers’ Associations, en die vakbonde Solidariteit en SAEWA het op 30 Junie 2014 ʼn ooreenkoms van 8% aangegaan. “Die afgelope week se stakings en betogings is dus onwettig en ons veroordeel dit ten sterkste,” het Pieterse gesê. Hy het gewaarsku dat verbruikers uiteindelik meer vir kruideniersware, wat in plastiek verpak word, kan betaal indien die staking voortduur.
-SAPA

Lees ook:
Foto’s en video: Stakers rig glo groot skade aan

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

Foto aan Maroela Media verskaf deur Plastics SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

s lynzaad ·

Dit is wonderlik verfrissend om vir ‘n slag werklike nuus te kan lees, en nie die hele tyd met politiek gebombardeer te word nie. Baie, baie dankie. Ek geniet al julle artikels baie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.