27 beseer in nóg ongelukke op SA paaie

Die ongelukstoneel noord van Delmas. (Foto: ER24)

Terwyl duisende Suid-Afrikaners vandag in die pad val op pad terug huis toe ná die Paasnaweek, duur die talle ongelukke op die land se paaie steeds voort.

Sondagaand is 14 mense beseer toe ʼn Quantum-bussie reg van voor met ʼn BMW op die R50 noord van Delmas gebots het. Volgens Ross Campbell, woordvoerder van ER24, was die insittendes in die bussie Sioniste wat teruggekeer het van kerkgeleenthede in Mpumalanga.

Vier mense in die BMW is ook in die botsing beseer.

“By paramedici se aankoms op die toneel net voor 21:00, is die insittendes van albei voertuie langs die pad gevind. 18 mense, onder wie ʼn kind, het geringe tot matige beserings opgedoen en is na hospitale in die omgewing geneem. Een persoon het behandeling van die hand gewys,” sê Campbell.

Die polisie en brandweerdienste was ook op die toneel.

Vroeër die dag is nog ʼn bestuurder beseer toe hy beheer oor sy voertuig verloor en dit op die R103 in Roosboom naby Ladysmith in KwaZulu-Natal gerol het. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het die voertuig aangetref waar dit teen ʼn groot rots langs die pad tot stilstand gekom het.

“Die bestuurder, vermoedelik in sy 30’s, was in ʼn baie ernstige toestand. Hy is uit die wrak van die motor gehaal, op die toneel behandel en daarna na die Ladysmith- provinsiale hospitaal gehaas,” sê Meiring.

In nog ʼn ongeluk in KwaZulu-Natal is agt mense beseer toe drie voertuie Sondagmiddag in ʼn ongeluk in Impendle betrokke was. Meiring sê paramedici is na die Gomane-kliniek ontbied nadat die beseerdes deur omstanders daarheen gehaas het.

“By hul aankoms het paramedici gevind dat die beseerdes geringe tot matige beserings opgedoen het. Hulle is vir hul beserings behandel en daarna na nabygeleë hospitale vervoer vir verdere behandeling,” sê Meiring.

Die SAPD was ook op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiger ·

Met die voorspelde reenweer deur die land vandag gaan die paaie ‘n slagveld wees.Motoriste in die’ land het nie ‘n benul hoe om te bestuur op nat paaie en in reen nie.Ek is baie bly ons hoef nie ‘n tree te ry nie!Duisende rande gespaar ook in 4 dae!

Gert van Wierdapark ·

Moenie komkommer nie! Min Blade het mos motoriste en padvarke “Gemaan” om verantwoordelik te bestuur, gereeld te rus en sommer boonop ook die padreels te gehoorsaam! In die land met sy duisende “On-Wetsame” padgebruikers gaan daar ongelukkig van hulle wees wat nie more die Son gaan sien opkom nie, maar ongelukkig gaan daar ook onskuldig passasiers en ander motoriste onder die sterftes wees!!! DIT is waaraan iets gedoen MOET word min Skerp!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.