Wat by een man met ʼn goeie hart en ʼn winkeltrollie begin het, is nou – 27 jaar later – ʼn goed toegeruste en lewensverrykende dierekliniek wat oor die jare heen al sowat 150 000 dierelewens gered het. Die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha het die afgelope naweek dié mylpaal saam met honderde inwoners en hul dierekinders gevier.
Die niewinsgewende dierekliniek is in Oktober 1996 deur Joe Mangcu op die been gebring.
Marcelle du Plessis, fondsinsameling- en kommunikasiebestuurder, sê Mangcu het in Khayelitsha gewoon en besef dat talle mense in die omgewing nie weet hoe om behoorlik na hul diere om te sien nie.
“Hy het kort daarna begin om daagliks van deur tot deur te gaan en troeteldiereienaars in die omgewing in te lig oor hoe hul diere versorg moet word.
“Hy het ʼn winkeltrollie gehad waarin hy alles vervoer het. Diere wat honger was, het kos gekry en daar was altyd genoeg water om die diere ook te bad. 27 jaar gelede, met daardie trollie van hom, het hy iets begin wat later duisende dierelewens sou red,” sê Du Plessis.
Sy sê namate inwoners in die omgewing vir Mangcu en sy goeie hart leer ken het, het donasies begin instroom.
“Die eerste groot donasie was ʼn bad,” skerts Du Plessis.
“Dit is waar alles regtig begin het. Hoewel die kliniek toe basies net uit ʼn bad bestaan het, het dit reeds begin om baie kosbare dierelewens te verander.”
Mangcu het later ook ʼn vraghouer as donasie gekry, wat hy dadelik in ʼn kliniek vir diere omskep het – die eerste dierekliniek in Khayalitsha en vandag steeds die enigste een.
Die kliniek was egter in daardie stadium slegs op Saterdae oop en baie veeartse het vrywillig aangemeld om diere in die gemeenskap te bedien.
“Die Mdzananda-dierekliniek het al meer begin groei en meer mense het begin betrokke raak. ʼn Vrywilliger het kort daarna fondse van ʼn maatskappy gekry om die kliniek verder uit te brei.
“Al die fondse het egter ʼn bietjie oorweldigend vir Mangcu begin raak, waarna hy besluit het om die kliniek aan haar oor te handig. Sy het tot en met 2015 die projek bestuur, waarna ons huidige algemene bestuurder oorgeneem het.”
Du Plessis sê dit is met harde werk en baie hoop en danksy elke mens se betrokkenheid en bydrae, dat die kliniek vandag is waar hy is.
“Die kliniek het deur die jare soveel gegroei. Wat by ʼn man met ʼn trollie, ʼn bad en ʼn vraghouer begin het, is vandag ʼn toevlug vir soveel siek en hawelose diere.
“Ons het ʼn operasiekamer met ʼn teater, ʼn X-straalkamer, ʼn hospitaal, twee konsultasiekamers, skuilings vir honde en katte en twee kwarantynareas waar geïnfekteerde diere (met byvoorbeeld katgriep) versorg word. Ons het ook mobiele klinieke en ʼn ambulans.”
In die afgelope jaar het die Mdzananda-dierekliniek selfs nog ʼn kliniek oorgeneem.
“Die Mass Animal Sterilisation Clinic in Khayelitsha (SA.MAST) sou noodgedwonge sy deure moes sluit en hulle het ons genader om dit by hulle oor te neem. Dit is nou ons sterilisasie-kliniek,” se Du Plessis.
Sy meen die feit dat die kliniek aanhou groei is ʼn bewys dat mense in die omgewing regtig begin verstaan dat diere ook versorging en hulp nodig het.
“Mense hier begin diere nou as ʼn metgesel sien en nie meer net as iets wat in hul tuin woon nie. Die feit dat meer en meer mense ons besoek beteken dat daar meer mense in die omgewing opgevoed oor diereversorging is – dit is ons kliniek se doel, dit is wat my trots maak om deel daarvan te wees.
“Diereversorging is besig om ʼn prioriteit in Khayalitsha te raak. As jy nou deur die omgewing ry sal jy opmerk dat daar baie mooi na die diere omgesien word.”
Du Plessis sê hulle is die enigste dierekliniek en -skuiling in Khayalitsha en hulle voortbestaan staan sentraal tot die welstand van die diere in die omgewing.
“Daar is ongeveer ʼn miljoen mense in Khayalitsha en omtrent 300 000 troeteldiere. Die meeste van hierdie diere-eienaars kan nie veeartsenydienste bekostig nie. Ons is hulle enigste toevlug, as ons nie hier was nie sou duisende diere lyding moes verduur of selfs weens hulle mediese toestande sterf.
“Mense sou nie ingelig gewees het oor hoe om na hulle diere om te sien nie en duisende hawelose diere sou in Khayalitsha se paaie ronddwaal.”
27ste bestaansjaar met hondeskou gevier
Du Plessis vertel dat hulle die afgelope naweek die eerste hondeskou in tien jaar in Khayelitsha aangebied het.
“Ons het dit in vennootskap met die Noon Gun- Rotariërklub aangebied. Dit was ʼn hondeskou vir die gemeenskap. Enigiemand kon die geleentheid bywoon en met hulle hondekinders kom spog. Dit was regtig ʼn wonderlike dag. Ons wou hê mense moet weet dat hulle trots op hulle diere kan wees en dat hulle die reg het om met hul diere te spog.
“Die negatiewe konnotasie dat inwoners van townships nie vir hulle diere omsien nie het ʼn growwe veralgemening geraak. Met hierdie hondeskou kon ons aan die res van die wêreld wys dat talle mense van ons gemeenskap trots op hulle dierekinders is en dat wat ons doen, werklik ʼn verskil maak.”
Du Plessis sê hulle het verskeie kategorieë in die hondeskou gehad met vyf beoordelaars wat wenners uit elke kategorie aangewys het.
“Die kategorieë het onder meer die grootste hond, kleinste hond, oulikste hond, blinkste pels, oulikste toertjie, beste drag vir honde, baas en hond wat die meeste na mekaar lyk, asook die mees unieke hond en hondepersoonlikheid ingesluit,” sê Du Plessis.
“Daar was oulike pryse vir elke kategorie-wenner en die gemeenskap het die geleentheid regtig baie geniet. Daar was baie kinders en elkeen het ʼn verrassingspakkie gekry wat deur die Noon Gun-Rotariërklub geborg is. Dit het ʼn opvoedkundige boekie en inkleurpotlode bevat. Die hele dag was regtig ʼn groot sukses.”
- (Foto: Facebook/Mdzananda Animal Clinic)
- (Foto: Facebook/Mdzananda Animal Clinic)
Du Plessis sê sy is dankbaar om al so lank deel van die dierekliniek se span te wees.
“Dit maak my regtig trots om terug te kyk en te besef hoe die Mdzananda-dierekliniek soveel mense- en dierelewens verbeter het. Ek is opgewonde om te sien hoe die kliniek oor die volgende jare bly groei en ʼn verskil maak.”
Wonderlike storie
Nou dit maak mens se hart bly en laat mens glo dat daar nog iewers sommige van ons is, wat n reenboog nasie is en ondersteun en so ook ons diertjies. Dankie vir die positiewe artikel.
Veels geluk, dit laat my hart warm klop om sulke stories te hoor. Ons het n soortgelyke organisasie in Grootbrak, veral die troeteldierskou is n wonderlike idee, dit kan veral kinders aanspoor om hul diere te versorg en op te lei.
GOD seën almal wat betrokke is by dié dierekliniek.
Watter wonderlike inisiatief en werk – Jo Mangcu jy verdien net die beste! Om so onbaatsugtig te werk vir diere – kry my respek duisend keer!!! Hoop die kliniek gaan net van krag tot krag binne die volgende 27 jaar!