27 migrante sterf toe hulle kanaal oorsteek

Migrante word na die strand gebring nadat hulle probeer het om die Engelse Kanaal oor te steek. (Foto: Ben STANSALL / AFP)

Minstens 27 migrante wat Engeland vanaf Frankryk probeer bereik het, is Woensdag dood toe hul opblaasboot in ’n kanaal aan die kus van Calais in die noorde van Frankryk gesink het.

Dit is die hoogste dodetal nóg sedert migrante in 2018 bote begin gebruik het om die kanaal oor te steek in die hoop op ’n beter lewe. Die spanning tussen Londen en Parys bou intussen op oor die rekordgetal mense wat daagliks die kanaal oorsteek.

Vyf vroue en ’n dogtertjie is onder diegene wat verdrink het.

Volgens Natacha Bouchart, burgemeester van Calais, het ’n swanger vrou ook tydens die voorval omgekom.

Net twee migrante op die betrokke boot het oorleef.

Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, het gesê vier vermeende mensehandelaars wat na bewering direk met die gedoemde oorsteek van die kanaal verbind word, is in hegtenis geneem.

Die nasionaliteit van die migrante was nie onmiddellik duidelik nie. Daar is aanvanklik vermoed dat 31 migrante gesterf het, maar die ministerie van binnelandse sake het die dodetal later tot 27 hersien.

Pres. Emmanuel Macron het intussen belowe dat Frankryk nie sal toelaat dat die kanaal ’n “begraafplaas” word nie. Hy het met die Britse premier, Boris Johnson, samesprekings gevoer om “alles moontlik te doen om die bendes te keer wat menselewens in gevaar stel”.

“Dit is Europa se diepste waardes – humanisme, respek vir die waardigheid van elke mens – wat in rou is,” het Macron gesê.

Brittanje meen Frankryk behoort strenger op te tree teenoor migrante wat die kanaal oorsteek.

Volgens die Franse owerhede het 31 500 mense sedert die begin van die jaar reeds probeer om na Brittanje te vlug. Minstens 7 800 is ter see gered. Dié getalle neem egter voortdurend toe.

“Die reaksie moet natuurlik ook van Brittanje af kom,” het Darmanin gesê wat op sy beurt vra vir “streng gekoördineerde internasionale reaksie”.

Toenemende post-Brexit-spanning heers tussen Brittanje en Frankryk aangesien daar nog ook oor visvangregte geredekawel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marius ·

Jammer voor die lewensverlies , maar die britte en hul gesante was mos slim deur hul grense oop te gooi . Nou is alles ghaos . Die wiel draai ….

melaney ·

Die lewe in die land waaruit hulle vlug moet darem baie traumaties wees, want om die kans met jou kinders te waag op bote in die oop see, met bendelede aan die stuur van daardie bote…..

annie ·

… mense wat vlug? Miskien is die oplossing om soos in die ou dae skepe te stuur om die miljoene bedreigde migrante in Afrika te gaan haal en af te lewer waar hul graag wil wees vir volle burgerskap. Engeland weet mos mooi hoe omdat hy in ander lande mensliewendheid verkondig en afdwing. Doen dit ook tuis.

Di ·

Lyk my ander lande het deselfde probleem as ons hier , Immigrante wat in groot getalle instroom – meestal onwettig, en word met ope arms verwelkom deur ons korrupte regering en hulle brothers.

Stephen ·

Amerika en die Britte moet ophou om ander lande se infrastruktuur te verwoes met inmenging in soewereine state se sake. Gaddafi was goed vir Libie en onder sy bewind het die land en die bevolking floreer. Saddam was goed vir Irak.
Afghanistan is die nuutste voorbeeld waar bewys is Amerika moet sy neus uithou. Daar was nooit n vlugteling probleem voorheen nie. Die Weste het hulleself te blameer.

Andrew ·

Jy kan nie n ontwikkelde land herontwikkel nie, daar is te min geld betrokke.

jzjz05 ·

En wat van hier by ons,Die buiteland het ook hier ingemeng en nou staan ons op die rand van bangkrotskap korupsie en diskrumunasie teen minderhede.

Shakespeare ·

So jammer dat daar nie ‘n groot see tussen die Oos Kaap en Wes Kaap is nie.

Miskruier ·

Teen 4000 Euro per persoon is dit nie vlugtelinge maar geluksoekers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.