270 000 entstowwe reeds weggegooi

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hakan Nural/Unsplash)

Die departement van gesondheid moes meer as 270 000 Covid-19-entstofdosisse sedert Mei vanjaar weggooi omdat dit glo nie meer geskik was om toegedien te word nie.

Dit blyk uit die antwoord van die minister van gesondheid, Joe Phaahla, op ʼn parlementêre vraag deur die DA-LP Haseena Ismail.

Volgens Phaahla is meer as 245 000 Pfizer-entstowwe weggegooi, terwyl sowat 29 000 Johnson & Johnson-dosisse tot niet gemaak is.

Die departement moes glo van hierdie voorrade ontslae raak weens skade daaraan en vervaldatums wat verstryk het. ʼn Aantal van hierdie dosisse het glo ook tydens die sogenaamde Zuma-onluste in Julie verlore gegaan.

Gedurende die onluste is tientalle apteke in Gauteng en KwaZulu-Natal geplunder, terwyl betogers die bedrywighede van gesondheidsdienste en inentingsfasiliteite verhinder het.

Ismail sê die koste van een Pfizer-entstofdosis is na raming R308 en een Johnson & Johnson-dosis kos sowat R280. “Dit is dan gelykstaande aan om en by R83 miljoen wat by die drein af is weens meestal vermybare vermorsing.”

Die DA het sedert hierdie verwikkelinge aan die lig gekom het, ʼn beroep op die departement van gesondheid gedoen om dadelik werkbare oplossings te vind vir die onnodige vermorsing van Covid-19-entstowwe.

“Hierdie entstowwe is kosbaar en ons kan nie toelaat dat ʼn enkele dosis tot niet gaan nie,” sê Ismail.

“Die departement moet ook sy inentingsveldtogte opskerp om die aantal dosisse wat nie gebruik  word nie en verval tot die minimum te beperk.

“Ons verloor nie net broodnodige entstowwe weens die vermybare vermorsing nie, maar ons mors ook miljoene rande en ondermyn die land se vermoë om die Covid-19-pandemie doeltreffend te beveg.”

Toegang tot inentingsfasiliteite

Die departement van gesondheid het intussen aangekondig dat Suid-Afrikaners wat teen Covid-19 ingeënt wil word, gratis na ʼn aantal klinieke en inentingsfasiliteite vervoer kan word.

Die departement, in samewerking met SA Taxi en die Community Constituency Front (CCF), bied vandeesweek tydens die Vooma-inentingsweek gratis vervoer na en van ʼn aantal fasiliteite in Gauteng aan.

Die Stad Kaapstad bied ook gratis ritte na fasiliteite soos dié vir pendelaars in die Atlantis-omgewing.

“Ons wil hê gesinne moet hierdie feestyd veilig wees,” sê Phaahla. “Voordat jy huis toe gaan vir Kersfees, of voordat jy met vakansie vertrek, maak seker dat jy jouself en jou geliefdes om jou beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Pieter ·

Daar is miljarde van ons belastingbetalers se geld al in die drein af te danke aan die skelm anc kommuniste.

annie ·

Glo ons regtig dat die regering vir die gratis entstof betaal het. Pledging is die wagwoord hier. Die vraag moes eintlik lees: Was die entstof nie reeds oor hul rakleeftyd toe ons dit gekry het nie? Moenie vir ‘n antwoord wag nie.

Kokerboom ·

Geld het GEEN waarde of betekenis onder ANC! Is dit nie goedkoper om sog opwip fasiliteite na mense te vat as om mense na fasiliteite te vervoer…koste/logistiek? Of is hul bang hul boewe ondersteuners sal dit roof of verwoes?

Misky ·

Wie staan “pa” vir hierdie vermorste geld sou dit nie die waarnemende minister van gesondheid wees nie? Is dit nou maar net so en almal trek skouers op?

Die oomblik wat die staat vir jou iets verniet en mahala gee, dan moet jy vrae vra en wonder……..

Marius ·

Gratis vervoer? Waar kom die geld vandaan? Gooi sommer nog entstowwe weg, dit werk in elk geval nie en is nog ‘n groter vermorsing van geld. Verskaf blyplek aan; en koop kos vir die oues van dae en arm mense, dan beweeg ons in die regte rigting. Doen wat saak maak.

Kwikkie12 ·

Wonder net of dit nie die rede is hoekom hulle wil begin om die entstof wet te maak nie?

Yolandie ·

Dit is 100% hoekom hulle dit wet wil maak!! Daar gaan te veel mense geld verloor en die uselessness van die ANC word net weereens uitgelig!

SlinkseKoljander ·

Nie weg gegooi nie, verkoop and mede kaders in buurlande.

piet ·

Jy kan nie vervalde goed verkoop nie dit moet tot niet gemaak word.

madels ·

Ramaphosa kla die heeltyd dat daar te min entstowwe is, nou wat nou?????

piet ·

Wat moet die regering met dosisse doen wat verval omdat mense nie wil inent nie?

Vlooitjie ·

Nee wat, daar is meer as genoeg gewilliges, die probleempie lê by swak beplanning, swak uitrol en korrupsie.

annie ·

Mensig maar dis te lekker. Word die ou entstof regtig in dreine afgespoel? Weet hulle waarheen loop die dreinwater in SA? Of word houers vol, soos in die VSA, op sypaadjies uitgestal vir hergebruik deur tweedehandse dokters.

Johan ·

“Dont waste a good crisis”…sommige medici maak ten minste nog lekker geld uit die paniek wat hul saai…

Adriana ·

Dan sê Ramaphosa vir die hele wêreld op internasionale TV dat Afrika tevrede moet wees met die krummels van die entstowwe, terwyl die ryklande die beste kry. Ek hoop hy is bewus hiervan en vra onverskoning vir die wêreld daarbuite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.