28 dood ná bus omslaan

Die bus het 52 passasiers vervoer ten tyde van die ongeluk. (Foto: Road Traffic Management Corporation/Twitter)

Talle mense, onder wie kinders, is Maandag dood nadat ʼn passasiersbus op die N2 tussen Oos-Londen en Butterworth in die Oos-Kaap omgeslaan het.

Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het die bestuurder na bewering beheer oor die bus verloor voordat dit omgeslaan het. Die bus het 52 passasiers vervoer ten tyde van die ongeluk.

Die RTMC het bevestig dat die ongeluk 28 persone, onder wie die busbestuurder en drie kinders, se lewens geëis het. Onder die volwassenes wat noodlottig beseer is, is 20 vroue en vyf mans.

ʼn Verdere ses persone is tydens die ongeluk beseer en na die Frere-hospitaal in Oos-Londen geneem vir verdere behandeling. Een van die beseerdes verkeer tans in ʼn kritieke toestand.

“Altesaam 18 persone, onder wie die medebestuurder van die bus, het geen beserings tydens die ongeluk opgedoen nie,” het die RTMC Dinsdag gesê.

Volgens Fikile Mbalula, minister van vervoer, het die RTMC ʼn ondersoek van stapel gestuur en sal die verslag oor die ongeluk na afloop daarvan aan die publiek bekend gemaak word.

Mbalula het intussen sy innige meegevoel aan die gesinne van die oorledenes betuig.

“Die tragiese lewensverlies bring onvoorsiene lyding aan talle gesinne wat hul geliefdes en broodwinners verloor het. Suid-Afrikaners moet saamwerk om ons paaie veilig te hou en verantwoordelik te bestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blomme ·

Dis nou baie jammer. Ek hoop nie spoed was die oorsaak van die ongeluk nie.

Misky ·

Mnr Mbalula, ek dink jy praat nou met die verkeerde mense oor ons paaie veilig hou en verantwoordelik bestuur. Baie busse ry onverskuldig en is maar nes groot taxis op ons paaie. Hulle voel niks vir niemand en het die houding van: Ek is groter as jy, gee pad of…..”

Steeds baie hartseer en meegevoel aan die naasbestaandes.

Cherokee ·

Ek weet nie of dit werklik nodig is om te sê dat ‘n bestuurder beheer verloor het voordat dit omgeslaan het nie. Ek het gesink dit is logies gesproke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.