28 vas vir KZN- politieke moorde

Minister Bheki Cele (Foto: Phando Jikelo, ANA)

Bheki Cele, minister van polisie, het Donderdag laat hoor dat een van die mans wat na bewering verantwoordelik was vir die moord op Sindiso Magaqa onder die 28 verdagtes is wat in verband met politieke moorde in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is.

Cele het bevestig dat ʼn verdagte wat aan die moord op Magaqa, voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, verbind kan word in die uMzimKhulu streekhof verskyn het. “Sy saak is uitgestel tot 23 September wanneer hy na verwagting om borgtog aansoek sal doen,” het Cele gesê.

Cele het beloof dat die verdagte nie die laaste een is wat in hegtenis geneem sal word nie. “Ons jag nog ʼn paar ander mense.”

Die Valke het in September 2017 aangekondig dat een van die verdagtes wat na bewering betrokke was by Magaqa se moord, Jabulani Mdunge (38), in ʼn skietgeveg met die polisie dood is op die N2 tussen Kokstad en Harding. Dít nadat hy verbind kon word aan ʼn transitorooftog.

Magaqa is in Julie 2017 saam met sy kollegas Nontsikelelo Mafa en Jabu Msiya in die uMzimkhulu-gebied geskiet. Hy is in September 2017 dood as gevolg van “komplikasies van verskeie skietwonde”. Mafa en Msiya het albei die aanval oorleef.

Van die 28 verdagtes wat in hegtenis geneem is, is 22 in aanhouding, twee het borgtog gekry en vier is vrygelaat hangende verdere ondersoek. Cele het bygevoeg dat agt 9mm-pistole, een rewolwer en 12 patrone, sowel as agt magasyne in die verdagtes se besit gevind is.

Cele het gewaarsku dat die polisie besig is om “hulle kloue skerp te maak” en dat verdagtes hulself aan die polisie moet oorhandig eerder as om deur die owerhede “gevind” te word.

Ses verdagtes wat verbind kan word aan die moord op die ANC-aktivis Musawenkosi Magatha Mchunu is ook Dinsdag in hegtenis geneem. “Hulle het in die Pietermaritzburg-streekhof verskyn en hul saak is tot 20 September uitgestel vir borgtogaansoek.”

Volgens Cele hanteer die polisie tans 137 sake wat verband hou met politieke moorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henk ·

10 politici word vermoor, as dit so baie is, en n taakspan van 118 mense word bymekaar gemaak. 70 plaasmoorde en jy is gelukkig as daar 5 polisiemanne opdaag en uiteindelik word die saak deur 1 speurder ondersoek!

Ai Tog ·

Goeie werk. Nou dat jy n paar brownie punte “ge-skore” het, om politike moordenaars te vang, vat nou die plaas en rasistiese aqanvalle en moorde vas. Dalk, net dalk, sal dit jou integriteit bewys, Cele.

riaan ·

As ek cele is sal ek nie hieroor brag nie! Dit bewys maar net waar sy en die Polisie se prioriteite le. Omdat and cadres vermoor word word alles moontlik gedoen en teen masiewe koste om die skuldiges te vang maar NIKS WORD GEDOEN OM SKULDIGES IN DAAGLIKE VEKRAGTING VAN VROUE EN MOORD OP BOERE OP TE SPOOR NIE!

Jy skiet jou self en die Polisie in die voet Cele!!!

Jan ·

Nee julle skiet julleself in die vowt afrikaners deurdat julle aanhou om julle vyande te voer en te onderhou en aan hulle belasting te betaal…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.