29 vas ná taxi-betoging

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Altesaam 29 verdagtes is in hegtenis geneem nadat taxibestuurders Vrydagoggend paaie naby die OR Tambo Internasionale Lughawe versper het.

Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD), het aan Maroela Media gesê die 29 verdagtes is in samewerking met die SAPD in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld en obstruksie van verkeer. Hulle is na die Kempton Park-polisiestasie geneem. Nog aanklagte kan later bygevoeg word.

Volgens Mokheseng is daar ook reeds 25 voertuie geskut.

Maroela Media het vroeër berig die taxibestuurders het omstreek 03:00 begin deur die R21 in albei rigtings tussen Voortrekker- en Atlasweg te versper. Die R24 in albei rigtings tussen Barbaraweg en die R21 is ook deur die voertuie versper. Die bestuurders het hul voertuie oor die pad getrek, dit gesluit en langs die pad gaan staan.

Foto: Twitter via @PigSpotter

EMPD-beamptes het met hulle probeer onderhandel om die voertuie te verwyder, maar hulle het geweier. Die EMPD het daarna insleepvragmotors laat kom om die voertuie te verwyder.

Die betoging het verkeer in die gebied erg ontwrig. Mokheseng het teen 08:30 gesê die paaie in die gebied is nog nie oopgestel nie, maar die owerhede is besig om die taxi’s te verwyder.

Dit is nie duidelik waaroor die taxibestuurders betoog nie, maar die vermoede bestaan dat die betoging verband hou met die voortslepende konflik tussen Uber-bestuurders en taxibestuurders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.