3 500 by ArcelorMittal kan werk kwyt wees

Arcelormittal se aanleg in Vereeniging (Foto: arcelormittalsa.com)

ʼn Besluit deur ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) om dalk drie van sy langstaalaanlegte te sluit, kan 3 500 mense sonder werk laat, het die vakbond Solidariteit Dinsdag gesê.

Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal en ingenieurswese by Solidariteit, is die besluit deur die maatskappy se bestuur en direksie geneem. Dit is egter glo nog nie gefinaliseer nie.

Indien dit wel deurgevoer word, sal dit die poste van duisende deeltydse sowel as permanente werknemers by die drie aanlegte by Newcastle, Vereeniging en ArcelorMittal Rail and Structures raak.

“Die redes wat vir hierdie drastiese besluit aangevoer word, sluit in Eskom se volgehoue beurtkrag, Transnet se hoë koste en die onbetroubaarheid, onvoorspelbaarheid en afname in plaaslike infrastruktuurontwikkeling,” het Venter gesê.

“Tog is dié hindernisse niks nuuts of onbekend aan Solidariteit of ander partye wat by Amsa betrokke is nie. Die tydsberekening van die skokaankondiging kan dus met reg bevraagteken word. Altesaam 3 500 werknemers en hulle gesinne gaan nou ʼn onseker Kersseisoen tegemoet.”

Amsa dui in hul verklaring aan dat die implementeringsplan om sy aanlegte af te skaal en te sluit, nog nie gefinaliseer is nie. Talle konsultasies moet glo nog met belanghebbendes plaasvind.

Venter is egter van mening dat konsultasies met belanghebbendes sekerlik sou geskied voordat so ’n ernstige besluit aangekondig is.

“Amsa se gesindheid in die geval van aankondigings van so ʼn ernstige aard was in die verlede swak, en hierdie aankondiging blyk ʼn herhaling daarvan te wees.

“ʼn Konsultasieproses met kernpartye wat deur so ʼn besluit geraak word, insluitend vakbonde, moes ongetwyfeld so ʼn aankondiging voorafgegaan het.”

Venter sê voorts dat die laaste weke van 2023 gebruik kon word om oplossings of alternatiewe te bespreek voor ʼn finale besluit daaroor geneem is, en werknemers van die besluit in kennis gestel is.

“Terwyl ons wag vir die formele artikel 189(A)-kennisgewing wat dié soort herstrukturering voorafgaan, is dit ook duidelik hoe die regering se wanbestuur by staatsondernemings soos Eskom en Transnet, en die regering se onvermoë om ekonomiese groei te bevorder, slagoffers eis.

“Dit word immers ook as redes aangevoer waarom 3 500 onskuldige werknemers moontlik werkloos gelaat gaan word, en dit gebeur in ʼn tydperk wat die werkloosheidskoers in Suid‑Afrika reeds die hoogste ter wêreld is.”

Solidariteit sê die vakbond sal ná ontvangs van die art. 189(A)‑kennisgewing met lede begin vergader en hulle ondersteun deur al die prosesse wat kan volg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Wat van elke persoon wat sy werk verloor agv die gevolge van totale verval onder die ANC wanbestuur…verloor ‘n KLOS ANC KADERS hulle trog vreet voordele?

Kokerboom ·

Dis ernstig MAAR spreek OORSAKE aan nie die gevolge! Oorsake genoem behalwe wereldwye staalpryse maar gemeenskaplike boef is die ANC regering en sy roekelose beleide en vernietigende idees!

Andries ·

Kyk wie is die hoof van Arcelormittal en dan glo jy dat hul omgee oor ander. HA ha. Jy verkoop niks aan ander nasies en dink hul gaan jou waardes navolg nie. Hul voel vere vir ander.

Ronél ·

Platinum se mandjieprys is so laag, afdankings is aan die orde van die dag.

Kerrie ·

Yskor …baie werkers het net opgedaag vir medies en pension…niks gewerk nie…net geteer…na 20jaar se teer kry hulle pakette en belê dit by Marietjie….nou werk hulle kinders by Mittal..nou wil almal huil..lol.

Martie ·

Ja is dit nie eienaardig nie, net voor Kersfees word hierdie swaard altyd uitgehaal. Het dit self aan eie gesin ondervind met kind op universiteit en huis wat betaal moet word. Skielik geen inkomste, geen medies maar wie gee om.

Cassie Carstens ·

Glo my, dis maar net die begin. Volgende een wat gaan waai is Volkswagen – weet net nie wanneer nie. Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Een van die dae is werkloosheid nog hoër en dan ry ons net met Chinese karre. ANC ideologiese politiek is siek!

Republikein in die Wes Kaap ·

Die SA ekonomie het gekantel. CEOs van groot firmas kan nie hul ondernemings deur stormwaters navigeer nie. Nie een wil teen die regime opstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.