3 dood, 15 beseer toe taxi en bus bots

Argieffoto

Minstens drie mense is dood en 15 beseer nadat ʼn bus en ʼn taxi Donderdag in die Pretoriase sakesentrum gebots het.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie (TMPD), het gesê die ongeluk het omstreeks 13:00 op die hoek van Kgosi Mampuru- en Madibastraat gebeur. “Daar word beweer dat die taxi se remme onklaar geraak en dit teen ʼn Stad Tshwane-bus gebots het,” het Mahamba gesê.

Daar was 16 mense in die taxi ten tyde van die voorval. Drie vroue is op die toneel dood verklaar. Die taxibestuurder en 12 passasiers is na ʼn hospitaal gehaas. Volgens Mahamba was daar net twee mense in die bus toe die ongeluk gebeur het en hulle is ook albei na ʼn hospitaal geneem. “Die moontlikheid van verdere sterftes is nie deur die nooddienste uitgeskakel nie,” het Mahamba gesê.

ʼn Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek. Mahamba het ʼn beroep gedoen op lede van die publiek wat die ongeluk sien gebeur het om na vore te kom en hul naaste polisiestasie te kontak.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

Sheila Lynn Senkubuge, raadslid vir paaie en vervoer, het die ongelukstoneel besoek. Sy het haar hartseer oor die voorval uitgespreek en gesê dit is veral tragies dat drie vroue gedurende Vrouemaand op só ʼn wyse moes sterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

IK ·

Dankie MM vir die noem vd stad se naam anders sou ek ‘n mampara van myself gemaak het met die vreemde name. Sterkte aan diegene wat gedwonge van vervoer gebruik moet maak wat nie ‘n flenter voel vir padveiligheid maar eerder skuldig is aan padvuiligheid.

leser ·

wat ‘n flou verskoning – die remme het gevaal
sê eerder die taxi het in die vepligte regterhandse draaibaan reguit aan gejaag en die bus het in die tweede baan wat ñ keuse baan is, regs gedraai, waarna die taxi half onder die bus ingery het
dit gebeur gereeld, verpligte draaibane, verkeersligte, stoptekens, solide sperstrepe, sirkels, ens., bestaan nie vir taxi’s

jabo ·

weereens n bewys dat motors meer mense dood as vuurwapens. in alle waarskynlikheid het die bestuurder se rybewys en die minibus se lisensie verval. tog wil die staat eerder wettige vuurwapens onteien oor vervalde lisensie omdat die staat nie hernuwingskennisgewings uitgestuur het nie.

ntombi ·

wie het immers verwag dat hulle vuurwapen lisensie scheme nie weer aangepas sal word voordat dit tyd word om te hernieu nie?
aan die ander kant, die nuwe wit vuurwapen lisensie was ontwerp om te verval en hulle sodoende geleentheid te gee om ons te ontwapen en natuurlik kry shabir sheik sy deel uit die kaartjie stelsel. maar dit bewys nou hoe die staat nagelaat het om herniewi gskennisgewings uit te stuur. id boek was beter. dit het alles bymekaar gehou

Trudie ·

Geen wonder die dodetal is so hoog as ongelukke tussen Taxies en busse gebeur nie. Ek ry elke dag met Barry Hartzog (Greenside) deur Parktown om op die snelweg te kom huis toe. As jy darm sien die spoed waarmee die busse deur die verkeer in hierdie lang straat vleg, slaan jy jou hande saam. Dan kom die Taxies by wat dubbelparkering doen by ‘n interseksie om passasiers op en af te laai en versper 2 van die 3 bane. Sodra die Taxie (oor)vol is, trek hy net eenvoudig weg met die arm van die bestuurder wat by die venster uithang. Of daar karre in aantog is of nie. Jy moet net rem trap om heelhuids daarvan af te kom. Dan word daar dwars oor die pad van bane verwissel van links na regs. Druk net daardie kort neus van die bussie voor jou kar in. Na ‘n uur of langer se uiterste konsentrasie om lewend by jou bestemming aan te kom, is jy doodmoeg, maar dankbaar jy lewe. Ek voel jammer vir die passasiers van hierdie vervoer. Hulle het nie ‘n ander keuse as om elke dag hul lewens te waag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.