3 dood, 3 500 dakloos gelaat ná Kaapstad-brande

Ná die Masiphumelele-brand op 29 November 2015 Foto: Nathan Geffen, GroundUp.org.za via Creative Commons

Ná die Masiphumelele-brand op 29 November 2015 Foto: Nathan Geffen, GroundUp.org.za via Creative Commons

Drie persone het Sondagoggend gesterf in twee verskillende brande wat in informele nedersettings in Kaapstad uitgebreek het.

“Die stad se brand- en reddingsdiens is omstreeks 01:00 na Masiphumelele ontbied waar ʼn groot hoeveelheid informele nedersettings gebrand het,” het Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, in ʼn verklaring gesê.

Ongeveer 800 informele strukture, een dubbelverdiepinghuis en twee enkelverdiepinghuise is verwoes. ʼn Man en ʼn vrou is in een van die informele strukture oorlede. Ongeveer 3 000 persone is dakloos gelaat.

Beamptes van die rampbestuureenheid en die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis was op die toneel om noodverligtingsplanne te koördineer, waaronder om kos, babapakke, matrasse en komberse te verskaf. De Lille het gesê die Masiphumelele-gemeenskapsaal is as ʼn noodskuiling oopgestel.

Altesaam 14 brandweerwaens is na die toneel ontbied waar 65 brand- en reddingsdienspersoneellede deur beamptes van Tafelberg Nasionale Park bygestaan is. Die brand is omstreeks 06:00 geblus en die spanne was besig met skoonmaakoperasies en om seker te maak dat die gebied veilig is.

In hierdie stadium is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie. Die polisie stel ondersoek in.

In nog ʼn voorval het ʼn brand omstreeks 23:00 Saterdagaand in Joe Slovo in Langa uitgebreek waar 125 informele strukture verwoes is. Ongeveer 500 persone is dakloos gelaat. Een man het noodlottige beserings opgedoen. Die brand is ongeveer 03:30 Sondagoggend geblus. Betrokke inwoners bly tans by vriende en familie. Die Mustadafin-stigting was op die toneel om verligting te bied, waaronder kos en komberse.

“My diepste medelye aan die families wat hul geliefdes in hierdie tragedies verloor het,” het De Lille gesê. “Ons is midde in brandseisoen en ek doen ʼn beroep op alle inwoners om uiters versigtig op te tree om almal se veiligheid te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rens Roodt ·

Hierdie informele nedersettings hou n groot gevaar in vir die samelewing en geboue en huise reg rondom – hulle is hulle eie grootste vyand – anc en mixgrill regering se toelating van hierdie wettelose geplakkery se skuld – nou moet die belastingbetalers weer uithaal en skenk

Berhalet Beukes ·

Dis tragies… Maar elke jaar, klokslag, gebeur dieselfde ding net voor Kersfees… Waarom word sulke nedersettings in die eerste plek toegelaat want as ek môre besluit ek plek waar ek wil sal ek beslis baie gou-gou verwyder word!

Emgee ·

Ek is jammer vir die lewensverlies en die gesinne wat hierdeur geraak word, maar ek wonder soms of mense besef hoeveel diere ly in hierdie brande. Almal is altyd bekommerd oor alles wat die mense verloor, maar wie steek ‘n helpende hand uit na die talle “township” diere wat net so getraumatiseerd en heel moontlik beseer is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.