3 dood, meer as 150 beseer in KZN-busongelukke

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Drie mense is dood en meer as 150 beseer in drie busongelukke die afgelope 24 uur in KwaZulu-Natal.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê drie mense is dood en meer as 60 beseer, nadat ʼn bakkie, motor en bus omstreeks 05:00 Saterdagoggend op die R617 naby Underberg gebots het.

Volgens Mathe is drie mense in die motor in die botsing dood. Die beseerdes wat in die bus en bakkie gery het, het ligte tot matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel, voordat paramedici van Netcare 911 en ander ambulansdienste hulle na nabygeleë hospitale geneem het.

Foto: ER24

Foto: ER24

Intussen is 52 skoolkinders en agt volwassenes Vrydagaand beseer, nadat ʼn bus op die N2 in Amanzimtoti omgeslaan het. Volgens Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, was 25 ambulanse en minstens 60 paramedici op die toneel.

“Die bus het langs die hoofweg gelê en brandbestryders moes die bus optel om seker te maak niemand is onder die wrak vasgekeer nie.” Volgens Vermaak is die beseerdes op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere mediese sorg.

Foto: ER24

Foto: ER24

Paramedici is ook Vrydagmiddag na ʼn busongeluk op die R602 in Umbumbulu ontbied. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die bus het omgeslaan en teen ʼn steilte langs die pad af gerol. Minstens 50 kinders is in die ongeluk beseer.

“Die bus het op sy dak gelê en die meeste van die kinders het reeds uitgeklim toe paramedici daar aankom.” Volgens Meiring het die kinders ligte tot matige beserings opgedoen en paramedici van verskeie ambulansdienste het die beseerdes op die toneel behandel en na nabygeleë hospitale geneem.

Die drie ongelukke word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat-ek-lees ·

Wat ek lees en wat ek sien betreffende die bus op sy dak maak absoluut geen sin betreffende padwaardigheid. Die bus se agteras (wiele) sit dan bykans in die middel van die bus! Daar word dus vrag gedra aan die agterkant van die bus wat letterlik soos die stert van ‘n hond die bus kan en sal rondswaai. Ook behoort ‘n ongelyke padoppervlakte dit te kan veroorsaak asook ‘n op-en-af beweging van die neus.
Ek sal graag wil weet of die bus verander is soos dit nou lyk en wie het die padwaardigheidsertifikaat uitgereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.