3 dood, ses beseer tydens skietery by Kagiso-taverne

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Die polisie in Kagiso aan die Wes-Rand in Gauteng ondersoek sake van moord en poging tot moord ná ʼn skietvoorval Vrydagaand omstreeks 22:30 by ʼn taverne in Soul City.

Brig. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, sê ʼn groep mense het alkohol verbruik en gekuier toe twee mans, wat klapmusse gedra het, skielik op hulle losgebrand het.

“Dit is nog nie bekend hoe die verdagtes van die toneel gevlug het nie. Die motief vir die voorval vorm deel van die ondersoek.”

Twee mans en een vrou, tussen 45 en 46 jaar oud, is op die toneel dood verklaar. Ses mense is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.

Die provinsiale polisiekommissaris het die maksimum hulpbronne vrygestel om die voorval te ondersoek.

“Die polisie se eenheid, wat ernstige en gewelddadige misdaad ondersoek, is ook op die toneel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Muridili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.