3 dood, talle vas oor renosterstropery

Veldwagters in die wildtuin. Foto: SANParke/Facebook

Drie vermeende renosterstropers is sedert Vrydag in die Krugerwildtuin doodgeskiet en 12 ander in hegtenis geneem.

Volgens Sanparke het veldwagters in die Krugerwildtuin Vrydag drie verdagtes in hegtenis geneem en is daar op ʼn swaarkaliber-jaggeweer, ammunisie, toerusting vir stropery en ʼn vars stel renosterhorings beslag gelê. Een van die verdagtes is intussen geïdentifiseer as ʼn onlangs afgetrede bevelvoerder van Frelimo (ʼn politieke party in Mosambiek). Hy was in kamoefleerdrag geklee ten tyde van sy inhegtenisneming.

Nog drie verdagtes is Saterdag in hegtenis geneem nadat veldwagters en die honde-eenheid hulle ʼn dag lank nagespoor het. Daar is ook op ʼn swaarkaliber-jaggeweer, ammunisie en toerusting vir stropery beslag gelê.

Veldwagters kon ook daarin slaag om op dieselfde dag nog twee verdagtes in hegtenis te neem. ʼn Derde verdagte is doodgeskiet nadat ʼn skietgeveg tussen die veldwagters en vermeende stropers uitgebreek het.

Veldwagters het Sondag verdere inligting opgevolg en op twee vermeende stropers in die wildtuin afgekom. Een van die vermeende stropers is doodgeskiet terwyl sy makker gewond en in hegtenis geneem is. Daar is weereens op ʼn swaarkaliber-jaggeweer, ammunisie, toerusting vir stropery en twee vars renosterhorings beslag gelê.

Argieffoto: Reint Dykema

Oomblikke hierna het veldwagters op nog drie vermeende stropers afgekom. ʼn Skietgeveg het uitgebreek en een van die verdagtes is noodlottig gewond. Die ander twee verdagtes kon daarin slaag om te ontsnap. Daar is op ʼn jaggeweer, ammunisie en toerusting vir stropery beslag gelê.

ʼn Polisiebeampte verbonde aan die Skukuza-polisiestasie is intussen ook in hegtenis geneem aangesien daar vermoed word hy is by renosterstropery betrokke. Hy is tans in aanhouding.

Glenn Phillips, uitvoerende hoof van die Krugerwildtuin, het gesê dit is uiters bemoedigend om te weet dat daar soveel toegewyde spanne veldwagters is wat elke dag druk ervaar en voortgaan om stropery te probeer bekamp.

“Ons moet die pogings van hierdie dapper manne en vroue in uniform ook buite ons parke toepas as ons vordering teen die stropersindikate wil maak.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pikkewyn ·

Net ‘n voorstel: Kan ons nie van hierdie kaliber manne en vroue kry om die moordenaars se spoor te vat nie want hulle is duidelik nie bang om hulle werk deeglik en ordentlik te doen nie. Dink nogals dit sal alle aanvallers meer af sit want vir polisie is hulle duidelik nie bang nie – net ‘n paar duisend in die hand en siedaar hy is weer vry……

Cherokee ·

Pikkewyn, kommentaar is veronderstel om by die tema te bly. Lees in hierdie berig hoeveel renosterslagters is in die Krugerwildtuin bedrywig op dieselfde tyd. Natuurlik is veiligheid van mense in Suid Afrika van uiterste belang maar dit skyn deur dat jy hierdie berig gelees het sonder om die erns daarvan te besef of miskien nie eens deurgelees het nie. As jy enigsins bekommerd was oor die welsyn van renosters sou jou kommentaar anders gelyk het. Al weet ek teen watter tempo renosters uitgewis word is hierdie berig skokkende inligting. Dit gaan erger as wat ons gedink het, en hierdie is slegs een reservaat.

hoe sê ·

Net jammer ‘n renoster se lewe is meer werd as die.van ‘n boer daar word nogal moeite gedoen om die renosters te beskerm

Johann ·

Darem een plek waar daar daadwerklik vordering gemaak word

Wil weet ·

Hoe is dit moontlik dat daar gereeeld van die oortreders wegkom? Daar is beslis ‘n groot leemte in die veldwagters se strategie.

Hanna ·

EK is baie bly dat die boosdoenders gevang is, ek hoop hulle word swaar gestraf of permanent gedeporteer. Geen lewende wese in ons land is meer veilig nie. Dis onsettend tragies.

Bennie ·

Ferdi verduidelik asb hoe kom jy by daai persentasie uit. Ek is baie geinteresteerd daarin. Jou formule en so aan.

lizl ·

Welgedaan vir die veldwagters! Hulle voer `n groot stryd, en elke dag wat hulle uit veld toe gaan mag dalk hulle laaste dag wees. En ja, ek voel ook ongelukkig oor die hoeveelheid boere en oumense wat sinneloos afgemaai word. Boere en renosters het werklik `n bedreigde spesie geword.

Renoster ·

Dis absoluut skokkend hoeveel stropers terselfdertyd besig is.

Pikkewyn ·

Cherokee,EK ht die berig deur gelees en besef die erns van die renoster stropery.Ek dink di stropery raak elke Suid-Afrikaner en ons almal is bekommerd daaroor.Ek het net probeer uitwys dat die veldwagters onder moeilike en gevaarlike omstandighede nie huiwer of skroom om hulle werk te doen nie en dat ons MEER van hulle nodig het dan sal misdaad dalk afneem.Ek sal trots wees oor wat hulle bereik het juis oor di GROOT gebied wat hulle moet dek en hul bereik soveel SUKSES.Dit is jammer as jy my kommentaar heeltemal verkeerd opneem.

Cherokee ·

Verskoning as ek jou kommentaar in die verkeerd gelees het, Pikkewyn. Vir my was dit asof jy die onderwerp net bloot onmiddelik verander. Die uitwissing van die renosters is ‘n uiters ernstige saak en soos een kommentator sê, die stropers behoort nie te ontvlug nie.
Askies, maar dit was nie bitsig bedoel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.