3 in hof oor dwelms van R6 miljoen

Argieffoto: Pixabay.com

Drie verdagtes tussen 41 en 53 jaar oud wat in hegtenis geneem is vir die besit van miljoene rande se heroïen, het Donderdag vlugtig in die Randburgse streekhof verskyn.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê daar is ná ʼn uitgebreide ondersoek vandeesweek beslag gelê op 29 kg heroïen ter waarde van nagenoeg R6 miljoen.

Die ondersoek wat etlike maande geduur het, het in 2017 begin en was daarop gemik om dwelmhandelaars in Gauteng vas te trek. Die Valke het Dinsdag ʼn lokval vir een van die verdagtes gestel waartydens ʼn dwelmtransaksie glo sou plaasvind. Die verdagte het die dwelms verskaf en hy en sy bestuurder is onmiddellik in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van ʼn derde verdagte wat glo deurlopend in kontak met die ander twee verdagtes was.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, het die samewerking tussen die wetstoepassingsowerhede geloof. “Ons prioritiseer die hantering van groot dwelmhandelaars en ons is baie opgewonde oor hierdie uitmuntende sukses,” het Lebeya gesê.

Die verdagtes, wie se name weens die sensitiwiteit van die ondersoek nie bekend gemaak mag word nie, bly in polisieaanhouding tot hul volgende verskyning op 28 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

humor ·

Hoeveel kosbare jonglewens het hul al verwoes en al die leed en smart wat daarmee gepaart gaan en dit net terwille van hebsig en materiele gewin. Lewenslange gevangenis is absoluut noodsaaklik.

Pretoria Man ·

Goeie werk. Elke bietjie help. inien mens in Hatfield, Pretoria, effens te lank talm in ‘n geparkeerde motor in sekere state is daar ‘n handelaar by jou met ‘n wye keuse van dwelms beskikbaar. Selfde by die Damdoryn Kruising naby Hartbeespoort Dam. Ek is seker lesers kan baie soortgelyke ervarings deel. Wat my verstom is dat dit vir jare openlik gedoen word en die polisie nie snuf in neus key, of het hulle dalk “snuf in neus” gekry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.