3 in hof oor moord op ANC-raadslid

S’bu Maphumulo. Foto: ANA.

Drie mans, van wie een ʼn raadslid is, het Dinsdag in die Umlazi-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn in verband met die moord op die ANC-raadslid S’bu Maphumulo voordat dié saak tot volgende maand uitgestel is.

Volgens Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), staan ANC-raadslid Mthokozisi Nojiyeza, sy broer Phumlani Nojiyeza en Nkosinathi Mbambo tereg op aanklagte van moord en sameswering tot moord nadat hulle na bewering Maphumulo se moord verlede jaar beplan het.

Maroela Media het vroeër berig Maphumulo is in Oktober verlede jaar verskeie kere geskiet terwyl hy in ʼn stilstaande motor buite sy huis in Umlazi naby Chatsworth gesit het.

Die 32-jarige Maphumulo het van ʼn vergadering gekom toe ʼn Golf6 langs hom stilgehou het. “Die verdagtes het skote op hom afgevuur en hy is in die kop geskiet. Die verdagtes het van die toneel gevlug,” het kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, destyds gesê.

Volgens Mbhele het woedende lede van ʼn gemeenskap in KwaZulu-Natal glo kort voor sy dood gedreig om Maphumulo se huis af te brand.

Een van die beskuldigdes, Mbambo, staan glo ook tereg op die moord van ʼn ander politikus, het die hof in Januarie aangehoor, het Kara gesê.

Dit het ook sedertdien aan die lig gekom dat Maphumulo en een van die Nojiyeza-broers vriende was, vertel Kara.

Maphumulo het plaaslik koerantopskrifte in 2017 gehaal toe die Abahli baseMjondolo-groep hom beskuldig het dat hy een van sy takleiers tydens ʼn vergadering geïntimideer het. Die groep beweer Maphumulo het saam met polisielede en “huurmoordenaars” die vergadering bestorm.

Die moordsaak is Dinsdag tot 2 Mei uitgestel. Die mans bly tot dán in aanhouding aangesien hul aansoek om borgtog by ʼn vorige geleentheid geweier is, het Kara verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.