ʼn 3-jarige seuntjie is Woensdagoggend kritiek beseer toe hy deur ʼn motor van sy fiets af gestamp is.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het in Keiweg, Benoni, plaasgevind.
Paramedici het volgens Meiring omstreeks 07:55 by die toneel opgedaag en die seun aan die kant van die pad aangetref.
“Die motor was ʼn paar meter weg aan die kant van die pad parkeer.”
Volgens Meiring het die seun ʼn ernstige kopbesering opgedoen en was hy in ʼn kritieke toestand.
“Die seun is op die toneel gestabiliseer en is daarna per mediese helikopter na ʼn nabygeleë privaat hospitaal gehaas vir dringende behandeling,” het Meiring gesê.
Die bestuurder van die motor is nie tydens die voorval beseer nie.
Die polisie ondersoek die voorval.