3-jarige sterf ook in Oos-Kaapse busongeluk

Die wrak van die bus. (Foto: Verskaf)

’n Driejarige seuntjie het in die hospitaal aan sy beserings beswyk nadat hy en talle ander Maandag in ’n ernstige busongeluk in die Oos-Kaap beseer is.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Oos-Kaap, sê die kind was die eerste om Maandagoggend per ambulans na ’n hospitaal gevlieg te word nadat ’n bus in die omgewing van Willowvale naby die Tafalofefe-hospitaal omgeslaan en in ’n kloof afgestort het.

Kupelo sê altesaam 64 mense is in die voorval beseer. Een van die pasiënte word tans in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel, terwyl ander in ortopediese sale behandel word.

Volgens Kupelo moes die bus dus meer as 90 mense vervoer het ten tyde van die voorval.

Die bus het in ‘n kloof neergestort. (Foto: Verskaf)

Die portefeuljekomitee vir vervoer het reeds aangedui dat die bus moontlik oorlaai was. Dit en roekelose bestuur het vermoedelik tot die ongeluk bygedra. Fikile Mbalula, minister van vervoer, sê die oorsaak van die ongeluk word ondersoek. “Maak nie saak wat die oorsaak was nie, die persone verantwoordelik vir die ongeluk sal aanspreeklik gehou word.”

Die bus was vanaf Chebe onderweg na Butterworth toe die bestuurder vermoedelik beheer oor die bus verloor, die bus omgeslaan en in die kloof afgestort het. Mbalula sê die passasiers was meestal jong kinders en pensioenarisse. Die passasiers was op pad terug van ’n betaalpunt om hul maatskaplike toelae van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) te ontvang.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, Dinsdagoggend op die ongelukstoneel. (Foto: Verskaf)

Die minister het Dinsdagoggend saam met familielede van die oorledenes die ongelukstoneel besoek om meer inligting rakende die voorval te kry. “Dit is hartseer en mag nooit weer gebeur nie,” sê die departement.

Die portefeuljekomitee vir vervoer doen nou ’n beroep op die provinsiale departement van vervoer om die families by te staan met begrafnisreëlings. “Ons betuig ons innige meegevoel met die families van die oorledenes en wens die oorlewendes ’n spoedige herstel toe. Dit is net moeilik om te verstaan ​​hoe hierdie ongeluk plaasgevind het,” sê Mosebenzi Zwane, komiteevoorsitter.

President Cyril Ramaphosa het ook sy meegevoel uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Op n ander nuusblad foto gesien dat die pad ver van die rand van die afgrond is. Hoe vinnig het hy gery?

Stofbakkies ·

So sien mens hulle daagliks onverskillig bestuur en busse word oorlaai, hulle ry verby verkeersbeamptes wat maar net anderpad kyk en nou het ‘n onskuldige kind sy lewe verloor!

SomeOne ·

mbalula, jy kan skree en swets soos jy wil, “dit mag nooit weer gebeur nie”, tot tyd en wyl dat “bestuurders”/drywers nie maniere het nie, sal dit aanhou gebeur

Jacobus ·

Help nou nie, maar die ANC se maghebbers sien kinders en bejaardes as lastighede?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.