3-jarige vermoor, boetie ernstig beseer

(Foto: SA Police Service/Twitter)

Die liggaam van ʼn driejarige seuntjie van Noordwes is in ʼn plas bloed by ʼn huis in Bokone naby Mahikeng gevind, terwyl sy sewejarige boetie met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê die polisie is Woensdagmiddag na die huis ontbied. “Volgens die inligting wat in dié stadium bekend is, het die kinders se stiefpa hulle na bewering [met ʼn voorwerp] gesteek en in ʼn bruin Honda Ballade gevlug.”

Die polisie het met ʼn soektog na die man begin en sy motor is vanoggend omstreeks 07:00 buite Mahikeng opgemerk.

“Die liggaam van die 33-jarige vermeende oortreder is in die voertuig gevind. Geen vuil spel word in dié stadium vermoed nie,” het Myburgh gesê.

Die polisie het nie verdere besonderhede oor die man se dood bekend gemaak nie. Dit is ook nie bekend waarom die man die kinders glo aangeval het nie.

Die polisiehoof in Noordwes, lt.genl. Baile Motswenyane, het die voorval ten sterkste veroordeel. Sy het ook ʼn beroep op mense gedoen om saam met die polisie te werk om teen die mishandeling van vroue en kinders op te staan en dit aan te meld.

Die sewejarige seuntjie is in ʼn bestendige toestand in ʼn hospitaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie ·

Die Generaal se die gemeeskap moet saam met die polisie werk.
Werk die polisie saam met die gemeenskap.
VRA MAAR NET

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.