3-jarige vir ewig aan ventilator gekoppel

Antoiné Dingle (Foto: Verskaf)

Antoiné Dingle, ʼn driejarige dogtertjie van Nelspruit in Mpumalanga, ly aan ’n seldsame en ongeneeslike sindroom wat veroorsaak dat sy daagliks skielik ophou asemhaal. Dié mediese toestand beïnvloed die ontwikkeling van haar brein en ander organe en is só seldsaam dat slegs ʼn handvol ander gevalle al in Suid-Afrika gediagnoseer is.

Antoiné het egter onlangs ’n operasie ondergaan wat moontlik dié toestand kan verbeter, al beteken dit dat sy die res van haar lewe aan ’n ventilator gekoppel sal wees.

Melanie Dingle, Antoiné se ma, het aan Maroela Media vertel Antoiné het 13 dae nadat sy gebore is vir die eerste keer ophou asemhaal. Sy is sedertdien van een dokter na die volgende, maar niemand kon uitpluis wat fout is met haar nie.

Volgens Dingle hou Antoiné daagliks op met asemhaal. “Haar brein kan nie vinnig genoeg ontwikkel nie en haar dermpies is besig om dood te gaan, omdat haar liggaam ʼn tekort aan suurstof ondervind. Dit veroorsaak weer probleme met haar maag,” verduidelik sy.

Dingle het ’n hartmonitor vir Antoiné gekoop toe sy een maand oud was, wat Dingle in kennis stel as Antoiné ophou asemhaal.

Dingle het gesê dat dokters Antoiné aanvanklik vir epilepsie getoets het, maar dat hulle nou uiteindelik Antoiné se toestand ’n naam kan gee.

“Die laaste dokter kon steeds nie vir ons sê wat fout is met Antoiné nie, maar toe het ons haar na die Busamed Modderfontein-private hospitaal geskuif, en die dokter daar het dadelik geweet wat is fout met haar. Ná ’n klomp toetse is Antoiné met kongenitale sentrale hipoventilasie-sindroom gediagnoseer.

“Daar is net enkele ander gevalle van dié toestand in Suid-Afrika en net sowat 1 200 in die wêreld. Babas wat die siekte kry lewe gewoonlik nie langer as een jaar nie. Antoiné is regtig ʼn wonderwerk, want sy is al drie jaar oud,” het Dingle gesê.

Die enigste behandeling wat dié toestand kan help is ’n trageotomie, waar ’n pyp deur Antoiné se keel aan ’n ventilator gekoppel word, sodat die ventilator vir haar kan asemhaal.

Antoiné Dingle (Foto: Verskaf)

“Antoiné het verlede Vrydag die operasie ondergaan en dit was suksesvol. Nou wag ons net vir al die toerusting. Sy moet vir so agt dae nog in die waakeenheid deurbring. Wanneer ons dan ná dit al die toerusting het, kan ons huis toe gaan. Mense moet dan vir my in Nelspruit, waar ons bly, kom opleiding gee oor hoe om met die toerusting te werk.”

Met al die toerusting is Antoiné in ʼn baie veiliger posisie. Die ventilator verskaf deurlopend suurstof aan haar brein en organe sodat dit weer soos normaal kan ontwikkel.

“Verder gaan dit goed met haar. Haar gemoed is beter, want sy het gister weer vir die eerste keer haar boetie en sussie gesien. So sy het darem weer bietjie gelag en grappies gemaak. Sy sukkel nou net om te eet, want sy gooi heeltyd op, so nou gaan sy op ’n vloeistof-dieet wat daarvoor behoort te help,” het Dingle gesê.

Dingle vertel dokters het voorspel dat Antoiné vir ’n maand na die operasie nie sal kan praat nie, maar dat sy die dag na die operasie al “mamma” gesê het.

“Sy is só ’n lewenslustige dogtertjie. Sy steel almal se harte. Sy is baie lief vir swem en om met haar maatjies te speel. Sy moet nou vir die res van haar lewe aan die ventilator gekoppel wees, haar toestand is nie geneesbaar nie, maar die nuwe toerusting maak darem dat daar nie verdere skade sal wees nie.”

Vir meer inligting of om ’n donasie te maak vir Antoiné se mediese kostes, besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Snuffels ·

Ons bid dat met tyd daar wel n beter oplossing sal wees…ons God is groot. Sterkte pragtige kind!

Gina ·

Ek het so baie om voor dankbaar te wees. Sterkte aan hierdie gesin en soveel ander mense wat elke dag moet worstel met probleme ver groter as my eie. Ons kla hopeloos te maklik.

Johan ·

Here seen die kind met volkome herstel, in Jesus Naam alleen. ??

Theresa B ·

Mag die Here haar seën sodat sy ook ‘n wonderlike lewe kan hê. Een van die dae kan sy weer lekker speel met haar maatjies.

treurgrond ·

My gedagtes het onmiddellik aan my dogter gedink toe sy in ‘n afskuwelike kar ongeluk was en die dokters hulle haar gese het sy sal nooit weer kan loop nie ens. Hierdie mamma het vir haar gese my bokka sit God eerste. Sit God eerste. My kind kan loop ens – ons het nie die dokters geglo nie. Antoine jy is pragtig en God is saam jou daar elke sekonde wat jy asemhaal. Word gesond, word net gesond. God vat haar en haar familie en vou hulle toe in U liefde. Amen

Wonder ·

Sterkte aan julle. My hart gaan uit na julle. Mag die Vader jul saggies en teer in Sy hand toe vou.

Colleen ·

Daar is krag in gebed. By God is niks onmoontlik nie. Sy sal NIE vir die res van haar lewe aan ‘n ventilator gekoppel wees nie. Be healed in the name of Jesus!

Sterretjie ·

Dankie Heer dat U hierdie dogtertjie aanraak en dat U in beheer is van lewe of dood. Hou haar asb vas en haar lyfie. U steeds die Groot geneesheer. Amen

Tanzie ·

My blondekop prinsessie was net so klein soos jy toe sy ook skielik van my weggeruk is. Mag die Here jou vashou klein pop en mag Hy jou genees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.