3 leeus, 1 tier by gewilde reservaat vergiftig

Elvis en Kai. Foto: Via Facebook

Die eienaars van die gewilde Jugomaro Predator Park in Limpopo is gebroke nadat vier van hul skaars en geliefde groot katte Vrydag in die vroeë oggendure op hul nuwe wildplaas vergiftig is.

ʼn Emosionele Rosa Fernandes, wat saam met haar seun Justin die park bestuur en die diere van kleins af met die hand grootgemaak het, het Vrydag aan Maroela Media gesê die katte is skaars twee weke gelede na hul nuwe wildplaas naby Vaalwater geskuif nadat die vorige wildplaas naby Groblersdal gelikwideer is.

“Ons het só daarna uitgesien om met ons nuwe lewe te begin en die park weer vir die publiek oop te stel, maar toe gebeur dít …”

Rosa verduidelik sy en Justin doen self al om die uur patrolliewerk omdat hulle nog geld bymekaarmaak om veiligheid op die nuwe perseel te verskerp.

“Teen 00:30 hoor ons ons wolf blaf. Ek en Justin het gaan ondersoek instel en by Elvis, ons witleeu, en Kai, ons goue tiermannetjie, se kamp gesien Elvis lê by die hek. Daar het skuim uit sy bek gekom. Hy het soveel pyn gehad dat hy die groot staalhek gebyt het dat dit buig.”

Kai het net stil gelê en nie asemgehaal nie. Justin het dadelik besef die katte is vergiftig. Hy het mond-tot-mond-asemhaling op Elvis, wat toe nog gelewe het, toegepas terwyl Rosa op Elvis se hart gedruk het in ʼn poging om hom aan die lewe te hou. Dit was tevergeefs.

“Terwyl ons besig was, het ons ons twee bruinleeumannetjies, Hercules en Taariq, in die kamp langs Elvis sʼn van pyn hoor grom. Ons het probeer om vir hulle steenkool in te gee terwyl ons gewag het vir ʼn veearts om van Bela-Bela af te kom, maar hulle wou niks eet nie en het later gesterf.”

Rosa het gesê in albei kampe is stukke vleis, waaronder lewer, haas en derms, met die gif Temic, ook bekend as Two Step, gevind. Dit was aan die heinings gehang, het in die kampe gelê en die vleis is ook deur die katte opgebring.

Die booswigte het toegang tot die wildplaas deur die heining verkry. Hulle is vermoedelik onderbreek voor hulle enige liggaamsdele van die diere kon verwyder en het met leë hande op vlug geslaan.

Hercules en Taariq. Foto: Via Facebook

“Ons vermoed ons geliefde katte is vergiftig om vir moetie geslag te word. Al waaroor ons bly is, is dat geen liggaamsdele geslag is nie. Ons gaan hulle nou op ʼn spesiale plek in die park begrawe,” het Rosa gesê.

“Wat vir ons vreemd is, is dat ons nog nie vir die publiek oopgemaak het nie. Die katte is nou eers twee weke hier; ons weet nie hoe die mense wat dit gedoen het die uitleg van die perseel geken het nie.”

Rosa het gesê spoorsnyers en beamptes van die Vaalwater-polisie was op die toneel en ondersoek die voorval. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Daar is glo leidrade wat daarop dui dat ʼn onbekende aantal verdagtes in die rigting van ʼn nabygeleë nedersetting in ʼn motor gevlug het.

Prof. Ray Jansen, medeprofessor in ekologie aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en navorser by die Nasionale Dieretuin, het vroeër in ʼn onderhoud aan Maroela Media gesê hy is byna seker ʼn sindikaat is vir die vlaag leeuslagtings verantwoordelik. Hy meen dit hou heel moontlik verband met moetie eerder as die Asiese swartmark.

“Groot katte word as baie kragtige moetie beskou en word al lank algemeen gebruik in tradisionele medisyne wat tradisionele genesers, sangomas en oudstes in landelike stamme in Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek voorberei,” het Jansen gesê.

Volgens Jansen glo gebruikers die moetie maak hulle magtiger as ander mense. Hulle dra die katte se tande, skedel, kloue, pote, stukke van die skedel en velle. “Die Asiese swartmark sal eerder organe, bene, vleis en ander dele stroop om te eet. As mens na die onlangse voorvalle kyk, is hierdie dele van die karkasse nie gestroop nie en daarom is die kans groter dat dit vir moetie gebruik word,” het hy verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Tanzie ·

Jammer vir julle groot verlies. Ek wonder net een ding… Weet julle regtig nie hoe enige iemand inligting kon bekom het nie? Het julle geen werkers op die plaas nie?

Helene ·

Ek is besig om ‘n verskriklike haat in my op te bou! Genade! Die mensdom is ‘n vieslike spesie!
Ja gooi die grense nog verder oop sodat ons nog meer mense innooi in hierdie Godverlate land!!

Denise ·

Skokkend jy moet baie gevoeloos wees om sulke mooi diere te vergiftig !!!

Nel ·

Ek hoop die skuldiges word vasgetrek. Niks behalwe lewenslange tronkstraf, indien dit moontlik sou wees, sal van pas wees nie.

kallie ·

wat kan vergoed vir die verlies van hierdie pragdiere? Die feit dat die boosdoeners gevang word? Om wat mee te gebeur? Natuurlik sou die mense weet die leeus is daar,sulke dinge versprei soos ‘n veldbrand. Alles in SA skreeu om veiligheid. In Afrika is daar nie respek vir diere nie. In die Kongo word die Chimps uitgeroei,vir moetie en om te eet oral word Olifante,Renosters ens op afgryslike maniere doodgemaak. Die wil,die liefde en die respek om die diere te bewaar is nie daar nie,en hoekom dit ontbreek hoef mens nie te ver gaan soek nie,tragies…….

Elsabe van Rensburg ·

Hierdie is so tragies ons het die voorreg gehad om Jugamaro met 2 geleenthede te kon besoek terwyl hulle nog in Krugersdorp was, dit was so ñ fantastiese ervaring om elke kat se verhaal te kon hoor en hul te kon voer. Die Fernandes familie is deur soveel hartseer en diep waters en het soveel ontbeer om hul veilig te hou en na Vaalwater geskuif te kry. Hoekom hul so pynlike wrede dood laat sterf , kan daar nie ñ spesiale eenheid gestig word om hierdie sindikate tot ñ val te bring?

chrissie venter ·

Rosa my hart gaan uit na julle dit was julle diere kinders en jul het so hard baklei vir hul my hart is stukkend saam met jou vriendin

Vegter ·

Dan vra mense my hoekom is ek lief vir diere en nie vir mense nie

jean ·

Ons almal dink en wens dieselfde uit woede!….My hart is seer…

M'Lady ·

As dit nie mense is wat vermoor word nie is dit diere. Haatlike land en inwoners.

Jef ·

Daar is geen liefde, respek, vrede, begrip en of emosie in die land nie, alles is verrot tot op die been.
Wat ook al mense probeer te doen om die land weer bewoonbaar te maak mag nie baat nie en sal in die toekoms ook nie baat nie, wie nie diere lief het nie het mense ook nie lief nie en moet van die aard bodem vergoed verwyder word.

Cherokee ·

Somtyds, op ‘n aand soos vanaand, lees ek die titel van die berig, kyk na die fotos op vol bladsy (pragtige diere!) en ek weet ek gaan nie hierdie berig lees (vanaand) nie. ‘n Kelk droog rooi (cabernet sauvignon merlot (my gunsteling) en dan beland hièrdie tipe nuus op my skerm? Sal dit more lees. Sal geen verskil maak nie en ek gaan (sommer nou!) my mondhoeke weer lig in ‘n glimlag.

Oom Kalahari ·

Hierdie is prag diere en mens kan sien hoe opreg lief hierdie familie vir hul was. Dit is so hartseer en ongenadiglik om dit aan ‘n dier te doen wat onskuldig is. Soos Kallie hierbo noem en wat ek gedurende my paar jaar ook in die Kongo (DRC) beleef het dat alle aap spesies en voels uitgeroei word. Ek is kwaad, bewoe en vol haat vir hierdie mense wat so gaan en ander mense se diere so vergiftig. Hierdie sogenaamde moeti duiwels is siek van kop tot tone en gooi die gemors in leeu en tier kampe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.