3 liggame in veld aangetref

Die toneel in Noordgesig, Soweto. (Foto: ER24)

Die liggame van drie mans is in ’n veld naby ’n informele nedersetting in Soweto in Gauteng aangetref terwyl die polisie in die Oos-Kaap op soek is na inligting om die liggaam van ’n jong man te identifiseer wat in dié provinsie op ’n grondpad aangetref is.

In Gauteng is die liggame van drie mans Woensdagmiddag in ’n veld naby New Canadaweg in Noordgesig aangetref.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici kort ná 14:00 op die toneel aangekom waar die owerhede reeds besig was om die gebied te deursoek.

Die paramedici is ’n ent die veld in na die liggame gelei. Die mans is al geruime tyd dood.

Die omstandighede rondom die mans se dood word ondersoek.

Die voorval in Gauteng volg kort nadat die liggaam van ’n jong man Dinsdagaand in Port Elizabeth in die Oos-Kaap aangetref is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, het in ’n verklaring gesê die polisie het omstreeks 19:00 ’n klagte ontvang van ’n liggaam op ’n grondpad naby Jackstraat in Missionvale.

“ʼn Bruin man van ongeveer 20 tot 25 jaar oud is op sy maag gevind. Die gemeenskap het verskeie skote gehoor en later die onbekende man met ʼn skietwond in sy maag aangetref.”

Die slagoffer het ten tyde van sy dood ’n denimbroek, tekkies en ’n wit baadjie aangehad.

Volgens Naidu is die identiteit van die man asook die besonderhede omtrent sy dood in dié stadium onbekend.

Die polisie doen nou ’n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat kan help met die uitken van die man. Inligting kan by speurder ao. Errol Kleinhans van die polisie in Algoapark by 083 243 4567 of 041 4011061 aangemeld word.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word, het Naidu verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.