3 nog soek ná aanval op bejaarde egpaar

Die gesteelde voertuig, (Foto: SAPD)

Die polisie in die Noord-Kaap is steeds op die spoor van drie mans wat ’n bejaarde egpaar op hul plaas buite Delportshoop aangeval het.

Chris (78) en Tolla (76) Hattingh is Vrydag omstreeks 19:30 in hul plaashuis sowat 25 km buite die dorp aangeval.

Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, sê drie verdagtes vermom in klapmusse het die bejaarde egpaar met messe gedreig waarna die slagoffers met elektriese koord vasgebind is.

Volgens Ramatseba het die verdagtes met kontant en selfone in die egpaar se Ford Ranger-bakkie gevlug. Dié voertuig is die volgende dag omstreeks 08:30 in die Lusaka-omgewing in Delportshoop gevind. Daar was geen spoor van die verdagtes nie.

“Selfs in die rustige Noord-Kaap word die kwesbaarheid van mense en hul vertroue in die mensdom gebruik om hulle leed aan te doen,” het dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se Noord-Kaapse leier, gesê.

Volgens hom is die egpaar oorrompel nadat die aanvallers voorgegee het dat hulle ʼn kers wou leen. Boshoff het gesê Tolla het veilig genoeg gevoel om die veiligheidsdeur oop te laat terwyl sy daarna gaan soek het.

Die burgerregtegroep AfriForum het Woensdag sy 2019-statistieke oor plaasaanvalle en -moorde bekend gemaak.

Luidens dié syfers is daar verlede jaar agt plaasaanvalle in die Noord-Kaap by AfriForum aangemeld. Dié provinsie het die laagste syfer vir plaasaanvalle gehad. Gauteng het die hoogste syfer met 167 plaasaanvalle.

Die statistieke toon verder dat plaasaanvalle sedert 2011 jaarliks toeneem. ʼn Gemiddeld van 1,1 plaasmoorde per week is verlede jaar gepleeg met ’n gemiddeld van 1,5 plaasaanvalle per dag in Suid-Afrika.

Die gemiddelde aantal aanvallers per voorval was drie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Dit was baie goedgelowig van die dame…om die deur oop te laat. Trust nobody ! het ek onlangs gelees.

Jakes ·

Wanneer gaan sekere boere leer dat jy nie saans jou huis verlaat om iemand te hulp te snel nie? Goedgelowigheid in SA is n vloekwoord. Vertrou niemand behalwe jouself nie, al ken jy die persoon.

Koos ·

Ek verstaan nie hoe gaan soek ly ‘n kers vir iemand met ‘n klapmuts op en laat sommer nog die hek ook oop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.