3 skoolverlaters sterf in botsing

JG Greyling, Conrad Meiring en Stiaan Grobler. (Foto: Hoërskool Hans Strijdom/Facebook)

Die gemeenskap van Groblersdal in Limpopo is in rou gedompel ná die dood van drie matriekseuns van die Hoërskool Ben Viljoen.

JG Greyling, Stiaan Grobler en Conrad Meiring (almal 18 jaar) is Saterdagoggend in ’n motorongeluk op die N2 naby George in die Wes-Kaap dood. ’n Vierde insittende het die ongeluk oorleef.

Die seuns was vermoedelik met vakansie ten tyde van die ongeluk.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê die presiese omstandighede rakende die voorval is nog onduidelik.

Voorlopige ondersoek dui egter daarop dat ’n Lexus met vier insittendes in die rigting van George onderweg was toe die bestuurder van die motor beheer oor die voertuig verloor het en die motor die pad naby die Maalgate-brug verlaat het. Dit is nie duidelik wie die motor bestuur het nie.

Die drie oorledenes is op die toneel dood. Die vierde insittende is tydens die voorval beseer. Hy kon egter hulp by die polisiestasie in George ontbied voordat hy in ’n plaaslike hospitaal opgeneem is vir mediese behandeling. Hy is intussen ontslaan, sê Pojie.

“’n Sielstilte het op Hoërskool Ben Viljoen en die gemeenskap neergedaal,” het dié skool intussen in ’n roerende inskrywing op sosiale media gesê. Stiaan en JG het die afgelope jaar in dié skool se uitvoerende raad gedien.

“Dis ’n droewige dag weens die verlies van hierdie [drie] jong manne. Leerders vir wie avontuur deel van hulle lewenswyse was. Met ’n glimlag het hulle die lewe aangepak. Elkeen met sy eie toekomsdrome en ideale. Altyd goed gemanierd en op hulle plek, staatmakers op verskeie terreine.

“Ons harte gaan uit na hulle gesinne. Woorde skiet te kort, maar hierdie leerders sal voortleef in ons almal se harte.”

’n Kranslegging sal Dinsdag by die skool plaasvind ter herdenking van JG, Stiaan en Conrad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Tragies. Baie sterkte aan al die families en vriende.

Magda

Dis so tragies, Baie sterkte aan di familie en skool.

Vonnie

o my genade! daar is nie woorde vir hulle ouers en vriende en familie nie.

PersHeks

So vreeslik jammer!!

Frank John

Ai, dis nou kort geknipte lewens, jammer, simpatie en meegevoel vir ouers.