3 skuldig aan moord op boer van Limpopo

Alwyn en René van Zyl (Foto: Verskaf)

Alwyn van Zyl, die boer van Limpopo wat in 2020 tydens ’n aanval op hom en sy vrou op hul plaas naby Mookgophong dood is, se moordenaars is swaar gestraf.

Tatenda Lebogang Mongwenya, Lloyd Madumba en Yaganias Saga is Maandag in die hooggeregshof in Polokwane onder meer skuldig bevind aan die moord op Van Zyl (79), asook die aanranding van sy vrou, René.

Die egpaar is in die vroeë oggendure van 20 Maart 2020 in hul huis op hul plaas Bad se loop naby Mookgophong (Naboomspruit) oorrompel. Die egpaar het gelê en slaap toe die mans die plaashuis betree het.

Die aanvallers het Alwyn se voete en arms met klere vasgemaak voordat hulle hom verwurg het.  Die aanvallers is toe na ’n ander slaapkamer waar René vasgebind en aangerand is.

Mongwenya, Madumba en Saga is destyds etlike ure ná die aanval in hegtenis geneem.

Regter Matsaro Violet Semenya het die drie mans elkeen lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Van Zyl, asook 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar tronkstraf vir huisbraak met die doel om te roof en een jaar tronkstraf vir aanranding.

Mongwenya is ook skuldig bevind aan die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie waarvoor hy onderskeidelik ’n verdere tien jaar en vyf jaar tronkstraf opgelê is.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die verdediging het ná die vonnisoplegging ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien. Semenya het egter die aansoek van die hand gewys.

TLU SA het intussen gesê hy is verheug oor die skuldigbevinding en vonnis.

“Die feit dat die moordenaars se appèl van die hand gewys is, is soveel beter sodat hulle nie nog hoftyd en belastingbetalersgeld kan vermors nie,” sê Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA se Noordstreek.

“Regter Violet Semenya het in haar uitspraak gesê dat die plaasmoorde en die wreedheid daarvan nie geduld mag word nie en dat daardie boodskap openbaar gemaak moet word. Haar verdere woorde was die slagspreuk van TLU SA: ‘Have you eaten today? Thank a farmer.’

“Dit is die tweede keer dat hierdie slagspreuk in ’n uitspraak gemeld word, en ons is bly dat daardie boodskap begin aanklank vind,” sê Van de Graaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

Die vonnisse is vanpas, dis net jammer dat lewenslank nie meer lewenslank is nie.

Schalk ·

Maroela Media julle sal moet begin om die waarheid te vertoon en nie te modereer volgens julle oordeel nie. My kommentaar was geensins nie volgens julle voorgestelde raamwerk nie. Die waarheid is dat die misdadigers beter af is as mense wat nie elke dag kos en huisvesting het nie. Dit bly die belastingbetaler se probleem

Harley Davidson ·

Lewenslank klink na ‘n swaar straf maar in Suid Afrika is dit ‘soos ‘n raps oor die vingers na ‘n paar jaar is die misdadigers uit op kastige parool maar die boer is vir altyd dood so wie het die ergste oorgekom.

Madz ·

..net ‘n vraag… WAAROM word daar 2 hele jare gemors alvorens vonnis opgelê word? Beskuldigdes is gevang kort na moord, hul is verbind met toneel so waarom die 2 jaar tydperk? Vra net.

ES ·

Madz, die Staat moet sy saak baie sterk kan bewys.

Die feit dat hulle net verbind word met die toneel is nie genoeg nie. Die regter moet die staat se getuienis sowel as die beskuldigdes se verdediging in ag neem, wetgewing en saakreg navors om as deel van sy/haar besluit vir die vonnis te gebruik.

Dit vat tyd. En intussen het hy/sy honderde sulke sake wat hy/sy elke week mee moet werk en na vors en vonnisopleggins wat gemaak moet word.

Jou kommentaar is relevant, maar dit wys vir my hoe min mense weet werklik hoe werk ons regstelsel en die prosesse wat gevolg moet word. Die hof moet altyd onpartydig bly.

JM ·

Die arrogansie van die moordenaars wat glo dat hulle self reg op lewe het, nadat hulle gemoor het! Die doodstraf moet terugkom, maar ons weet almal waarom dit afgeskaf is. Daar is egter ‘n regverdige God voor Wie hulle nie gaan wegkom nie.

ES ·

Dis net jammer dat ons regering kriminele se lewens dieselfde ag as die onskuldige mense s’n. Want die doodstraf sou die regte straf gewees het in hierdie geval.

efjy ·

Die vonisse moet eintlik apart uitgedien word. Sodra hulle parool kry vir die errste misdaad moet die tweede vonnis in werking tree . Op hierdie stadium het hulle twee verskillende mense aangerand/vermoor. Hulle word dus net gestraf vir een aanklag. Wat gebeur as hulle byvoorbeeld ‘n hele gesin vermoor het? Dan kom hulle na ‘n paar jaar uit op parool en moor weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.