3 sterf in geweld in noorde van PE

Argieffoto

Drie mense is die afgelope naweek in geweld in Port Elizabeth se noordelike gebiede dood, terwyl die polisie op verskeie vuurwapens in dié misdaadgeteisterde gebiede beslag gelê het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê die slagoffers is in twee afsonderlike voorvalle in die noordelike gebiede van die Baai doodgeskiet. Een van die slagoffers was voorheen in ʼn getuiebeskermingsprogram.

Nadine January (32) en Clint Matthews (31) het Vrydagaand agter ʼn huis in Brassstraat in Bloemendal gelê en slaap toe hulle doodgeskiet is. January se liggaam is Saterdagoggend op die skuiling se vloer aangetref, terwyl Matthews se liggaam in ʼn buurman se erf gevind is.

January was in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se getuiebeskermingsprogram ná ʼn vroeëre moordsaak. Sy is die dag voor haar moord “vir sekere oortredings” uit dié program ontslaan.

Die motief vir die moorde is in dié stadium onbekend. Die polisie ondersoek twee sake van moord en niemand is nog in hegtenis geneem nie, het Naidu gesê.

In Gelvandale is ʼn 23-jarige bendelid Maandag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem nadat Kurtley Bruiners (23) Sondagaand doodgeskiet is.

Bruiners was saam met drie vriende in ʼn stegie teenaan Avalonstraat, toe twee mans in die stegie uit die rigting van Van Duurenstraat aangestap gekom het. Bruiners het dié mans geken, het Naidu bygevoeg.

Die mans was glo halfpad op in die stegie, toe hulle op Bruiners en sy vriende losgebrand het. Bruiners is in die maag en bors gewond. Sy vriende was ongedeerd en het van die toneel gevlug. Bruiners is op die toneel dood.

Die bendelid is vanoggend in Zimdahlstraat in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklagte van moord.

Naidu het gesê sy vermeende makker is steeds soek.

Die noordelike gebiede van die stad gaan tans gebuk onder ʼn vlaag geweld, veral bendegeweld.

Volgens Naidu het die polisie se bende-eenheid te midde van die moorde die naweek op verskeie vuurwapens beslag gesê. Die eenheid het onder meer by ʼn huis in Goliathstraat in Helenvale op ʼn 9 mm-pistool beslag gelê, terwyl twee speelgewere in Cenonia Close in Bethelsdorp en ʼn luggeweer tussen verskeie strukture in Kobusweg in Gelvendale gevind is.

ʼn 28-jarige man is in Bethelsdorp in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen wat verlede jaar in Durban as gesteel aangemeld is.

Tydens ʼn deursoekingsoperasie in Langdonstraat het polisielede twee mans in Shaheedstraat gesien hardloop. Een van die mans het ʼn vuurwapen in sy hand gehad. Die polisie het die mans te voet agterna gesit en een van die verdagtes het die vuurwapen in ʼn erf gegooi.

Volgens Naidu is 12 vuurwapens die afgelope week in verskillende dele van die stad gekry. Nege daarvan was gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wonder maar net ·

Wat help die beskerming program… as die persoon net daarna doodgeskiet word… dan bly ek maar liewer stil as om informasie te gee en jou lewe is in gevaar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.