3 sterf in nóg ʼn aanval op familie

plaas-polisie-veld

Argieffoto

Drie mense is Sondagaand dood in die derde aanval op families die afgelope week in KwaZulu-Natal.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die jongste aanval het omstreeks 18:00 naby Folweni, wes van Umlazi, plaasgevind.

“Ses mense het op die M35 in ʼn voertuig gery toe hulle deur ʼn groep onbekende mans in ʼn ander voertuig gekonfronteer is. Die verdagtes het op die slagoffers se voertuig losgebrand en drie mense van dieselfde familie is noodlottig gewond. Die ander drie mense is beseer en moes na ʼn hospitaal geneem word vir behandeling,” het Zwane gesê.

Die Folweni-polisie ondersoek drie sake van moord en drie van poging tot moord.

Zwane het gesê een van die oorledenes was ʼn taxibaas en die ander twee was taxibestuurders. Die motief vir die moorde word ondersoek.

Dié skietery volg nadat vyf familielede Donderdagaand in Mariannhill in Pinetown doodgeskiet is. ʼn Groep aanvallers het omstreeks 23:00 toegeslaan en op die vyf familielede, tussen 19 en 34 jaar oud, losgebrand. Vier van die mense is op die toneel dood. Die ander slagoffer is in die hospitaal dood.

Drie verdagtes is Sondagoggend in die Nteke-omgewing naby Mariannhill in verband met dié skietery vasgetrek terwyl ʼn vierde verdagte die middag in KwaNdengezi vasgetrek is. Die mans moet binnekort in die hof verskyn.

Die ander skietvoorval het Dinsdagaand in Matimatolo, suidoos van Greytown, plaasgevind en agt lede van dieselfde familie, almal vroue tussen 16 en 60 jaar oud, is geskiet waarna die twee huise waarin hulle was, aan die brand gesteek is. Volgens die polisie word daar vermoed dat ʼn familietwis tot dié tragedie gelei het. Die provinsiale polisie se trio-taakspan ondersoek dié voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

snoefie ·

jammer om te sê, maar al die plaasmoordenaars en aanvallers wat skotvry wegkomhet n kultuur van MOORD IS GEREGVERDIG gekweek. voeg daarby nog die GEMEENSKAPPE wat vir elke bakatel die dorpe kan invaar op n vernietigingstog met die polisie wat die die situasie monitor en jy jry die Nuwe Suid Afrika.

Lee ·

Dit klink soos die Wille-Weste daar in KZN soos wat die mense vermoor word.
Eintlik ook maar orals.
Die wêreld en sy bewoners word meer goddeloos by die dag !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.