3 swaar gestraf vir ontvoering van minderjarige  

(Argieffoto)

ʼn Man van Philippi in die Wes-Kaap, sy ma en ʼn vrou wat ʼn familielid is van die slagoffer is gesamentlik 80 jaar tronkstraf opgelê op verskeie aanklagte, insluitend verkragting en die ontvoering van ʼn minderjarige.

Dit nadat ʼn 14-jarige meisie van Mount Fletcher in die Oos-Kaap ná haar pa se dood na Philippi gestuur is om met die beskuldigde man te trou.

Die drie is Woensdag in die Wynberg-landdroshof gevonnis.

Malibongwe Gudwana is skuldig bevind aan verkragting, mensehandel, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy is altesaam 55 jaar tronkstraf opgelê, wat oor 25 jaar uitgedien sal word.

Sy ma, Thandiwe, is skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel en is altesaam vir 13 jaar tronk toe gestuur. Sy moet effektief tien jaar hiervan uitdien.

(Argieffoto: Unsplash)

Die slagoffer se tannie, wie se naam nie genoem kan word nie om die identiteit van die minderjarige te beskerm, is 12 jaar tronkstraf vir mensehandel opgelê. Sy het die slagoffer in 2011 na Gudwana gestuur, nadat sy gehoor het hy is op soek na ʼn vrou.

Adv. Maria Marchell, ʼn senior staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat die slagoffer nie na Kaapstad wou gaan nie, maar haar tannie het haar op 22 Desember in ʼn taxi gesit en aan die bestuurder gesê om haar nêrens behalwe in Philippi af te laai nie.

“Gudwana en sy ma het die slagoffer die volgende dag by die taxi-staanplek ontmoet, waar hulle aan die meisie gesê het sy sal met Gudwana slaap om die huwelik te voltrek, aangesien hy vir die meisie se pa se begrafnis betaal het. Hy het die meisie toe tussen Desember 2011 en Desember 2012 herhaaldelik ontklee, aangerand en verkrag.”

Volgens Marchell het die meisie Gudwana en sy ma later oortuig om haar toe te laat om skool by te woon, waar sy toe die saak aangemeld het. Sy is na ʼn plek van veiligheid geneem en die saak is by die polisie aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marius ·

55 jaar wat oor 25 jaar uitgedien word ? Gaan hy in die nag moet regop sit ?

Gemaskerde Sopbeen ·

Beslis te lig. Die kind is vir haar hele lewe geskaad

Blikke ·

Is dit al wat met hulle gebeur na n lewe heeltemaal verwoes is?

Sarah ·

Hoe iemand so onmenslik kan optree ten n kind gaan my verstand te bowe.

Mariana ·

Wat ‘n siek besigheid en snaakste is dat dié mense geen fout vind daarmee nie. Geen fout dat ‘n kind met ‘n ou man moet trou. Skending van menseregte dit is dit beslis. Tronkstraf is nie genoeg straf nie.

Sarel ·

Veldtog om die geweld teen vrouens en kinders fe bekamp net Politieke Foeffie. ANC Vroueliga is dood stil?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.