3 swaar gevonnis vir ‘skaamtelose moord’ op polisieman

Argieffoto

Die drie mans wat daarvan aangekla is dat hulle ʼn Wes-Kaapse polisieman vermoor het en toe sy dienspistool gesteel het, is dié week gevonnis en lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof in Kaapstad opgelê.

Die Wes-Kaapse polisie het dié vonnisse Maandag verwelkom.

Die hof het bevind dat Athi Mdluli, Xolani Ndesi en Lubabalo Mhobo skuldig is aan die “skaamtelose moord” op konst. Mziwenkosi Siwisa. Siwisa was in Desember 2016 op pad na sy werk toe hy deur die groep oorval en vermoor is.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê al drie mans is ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede en nóg 15 jaar vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

“Hoewel ons weet dat die vonnisse nie Siwisa se lewe vir hom kan teruggee nie, sal die strate van Kaapstad veiliger wees met die trio agter tralies,” sê Van Wyk.

Hy sê volgens staatsgetuienis in die verhoor is 11 polisielede in die Wes-Kaap vermoor in die 2016/2017-tydperk. Ses van dié polisiemanne was glo nié aan diens tydens die voorvalle nie. Elkeen van die polisiemanne is telkens van hul dienspistole geroof.

“Brig. Jerome Cele [van die polisie se speurafdeling] het getuig daardie wapens is gebruik om onskuldige mense by hul huise en op straat te beroof en te vermoor,” sê Van Wyk. “Die moord op polisiemanne is ʼn groot bekommernis vir die polisie.”

Siwisa het langer as tien jaar in die polisie gedien en was die pa van twee seuns, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.