3 tussenverkiesings kan Wes-Kaapse politiek help peil

(Foto: DA)

In die Wes-Kaapse politiek is daar ʼn gesegde (en ʼn liedjie) wat hierdie week getoets gaan word: “Dis Zille wat die wind laat waai” (as politieke parodie op die volksliedjie “Dis julle wat die wind laat waai”).

Drie tussenverkiesings vind hierdie week in die provinsie plaas en die Wes-Kaap se regerende party, die DA, is besig om alles uit te haal om te wys hy het nog skop in sy hartland.

Die uitslae in die tussenverkiesings, waarvan twee in die Kaapse metropool plaasvind en een op die platteland, is die eerste in die provinsie sedert die aanwysing van die Wes-Kaapse oudpremier Helen Zille as waarnemende partyleier. Dit is ook die eerste sedert die bedanking van die voormalige DA-leier Mmusi Maimane, die party se voormalige federale voorsitter, Athol Trollip, en die voormalige burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba.

Die drie Wes-Kaapse tussenverkiesings vind onderskeidelik in Kuilsrivier, Mitchells Plain en Vredendal plaas.

Tydens tussenverkiesings verlede week in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap was daar aanduidings dat die verloorgety vir die DA kan begin draai, met beter as verwagte uitslae vir die amptelike opposisieparty, wat onder meer twee taai wyke in onderskeidelik Pietermaritzburg en Somerset-Oos behou het.

Patricia de Lille. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Kaapstad se wyk 19 is in Kuilsrivier, rondom die hoër tegniese skool en die woonbuurte Kalkfontein en Wesbank. Die wyk het grootliks bruin en swart inwoners, waarvan omtrent twee derdes Afrikaanssprekend en omtrent 17% Xhosasprekend is. Die DA het in 2016 sowat twee derdes van die stemme getrek, maar hierdie keer neem sewe kandidate deel, van onderskeidelik die ACDP, ANC, DA, Democratic Independent Party, EFF, Good en die Organiese Party.

Die gebied stem al jare DA, maar is nie een van die heel sterkste DA-wyke in die stad nie.

Kaapstad se wyk 82 is die woonbuurt Tafelsig in Mitchells Plain, ʼn tipiese bruin, stedelike werkersklasbuurt met ʼn ietwat unieke partypolitieke geskiedenis. Hoewel Tafelsig die afgelope 20 jaar gewoonlik DA gestem het, is dit ʼn wyk wat histories ʼn sterk korps aanhangers van die Good-leier, Patricia de Lille, bevat – tot só ʼn mate dat haar vorige party, die OD, in 2006 se munisipale verkiesing die wyk by die DA afgevat het, net om dit kort daarna in ʼn galbitter tussenverkiesing weer aan die DA af te staan.

Die syfer van 83% stem wat die DA in 2016 in Tafelsig behaal het, kan dus beduidend daal noudat tien kandidate, insluitend een van De Lille se nuwe Good-party, in die veld is.

Kiesers in Tafelsig sal kan kies tussen drie onafhanklike kandidate, asook kandidate van die ACDP, ANC, Kaapse Party, DA, Democratic Independent Party, EFF en Good.

Dit is in Tafelsig waar ʼn groot getal Good-ondersteuners die afgelope naweek na die DA oorgeloop het. Of dit ʼn verteenwoordigende golf is, sal die tyd leer. Vandag het die parlementêre DA-leier, John Steenhuisen, en die party se Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, ʼn DA-optog in Tafelsig gelei.

Die tussenverkiesing in Vredendal gaan die taaiste toets wees vir die DA wat in 2016 49,9% van die stemme gekry het. Die tussenverkiesing vind plaas in wyk 4 van die Matzikama-munisipaliteit wat die oorwegend bruin buurt Vredendal-Noord insluit.

Die gebied was baie jare lank ʼn keiharde ANC-vesting en is die bakermat van die voormalige Wes-Kaapse ANC-leier, Marius Fransman. Verskeie lede van die Wes-Kaapse kabinet het hierdie week daar gaan stemme werf.

Die kiesers van Vredendal-Noord het hierdie week ʼn keuse uit ses kandidate, onderskeidelik van die ACDP, ANC, DA, EFF, Good en die Khoisan Heavenly Party.

Uitslae in al drie tussenverkiesings word teen Donderdagoggend verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kraaibakke ·

Lyk my tussen the good the bad and the ugly party van Aunty Pat en die cripple party van Aunty Hellen ,hoezit?

Ontevrede Kapenaar ·

As die DA wil hê ons moet vir hulle stem moet hulle ontslae raak van die belaglike tariewe.
Hoekom moet ons nou skielik belasting betaal vir water en elektrisiteit, of ons dit nou gebruik of nie?
Neewat, die DA het te duur geraak.

HC ·

@Ontevrede Kapenaar….Jy het genoem “Neewat, die DA het te duur geraak” Ek stem beslis saam.. Ek is ook ontevrede en weet nie of ek vir DA moet stem nie.

werries ·

Is die EFF nie meer n politieke party nie
Die verkiesings komisie het hulle registrasie dan gekanselleer Hoe neem hulle nog deel in die verkiesing?

Stebastiaan ·

As niemand betaal nie hoe moet die instandhouding betaal word. Los ons nou maar ‘n kabel wat onklaar is netso en ons gaan maar terug na kerse en parafien stowe. Vir my is dit nie ‘n probleem leer my om elektrisiteit te waardeer asook water in my huis. Betaal maar liewer sou ek sê.

aj ·

Whaaa … haaa …. haaa

“Dis Zille wat die wind laat waai!”

Sy maak SKOON!

… waai die ANC in die see in …!!!

KrokodilBotha ·

Daar is die land se probleem. Dan stem ons geel, volgende keer stem die selde weer pienk, dan later verander hulle weer na wit met swart spikkels. Nou hoe kan jy so verkleur mannetjie wees. Met die DA se smartie boks approach , vat geld hier, en gee vir daai . Betaal nou meer want daai is nou nie meer happie nie. Zille ek hou duim vas julle verloor soveel as moontlik stemme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.