3 van SAID verwelkom terugtrek van klagte

(Argieffoto)

Ivan Pillay, Johann van Loggerenberg en Andries Janse van Rensburg het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om alle aanklagte teen hulle te laat vaar, verwelkom.

Die drie, voormalige amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), is herhaaldelik daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by ʼn beweerde geheime eenheid in die SAID. “Dit is onmoontlik om te sê hoeveel ellende dié aanklagte en die versinsel van ʼn geheime eenheid vir ons kliënte, hul gesinne, kollegas en vriende veroorsaak het, om nie eens te praat van die enorme skade wat dit aan die SAID aangerig het nie,” het die drie se regspan Maandag gesê.

“Die ondermyning van die SAID se afdwingingsvaardighede het plaasgevind terwyl mense met hul verwoestende agenda aangehou het om die geheime eenheid te gebruik as dekmantel en afleiding van hul eie wandade. Vir baie lank het dié rookskerm gelei tot die vernietiging van die SAID se vermoë om belastingwette af te dwing. Dit het ook gelei tot ongekende verliese vir die land en ʼn algemene afname in belastingvoldoening.”

Die drie is aanvanklik daarvan beskuldig dat hulle in 2007 meeluisterapparaat in die hoofkantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Silverton, Pretoria, geplant het.

Die mans is ook aangekla van oortredings van die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie, beter bekend as Rica-wetgewing, asook korrupsie.

Pillay, Van Loggerenberg en Janse van Rensburg het vroeër die Pretoriase hooggeregshof genader vir ʼn bevel om die strafsaak teen hulle te laat vaar.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het verlede week aangekondig alle klagte teen die drie word teruggetrek. Die NVG het bevind daar is geen redelike kans op ʼn suksesvolle vervolging nie.

In ʼn verklaring oor die besluit sê die mans se regsverteenwoordiger, Bernard Hotz, die enigste regsmening dat die eenheid destyds onregmatig op die been gebring is, is dié van adv. Muzi Sikhakhane, wat nou as oudpres. Jacob Zuma se regsverteenwoordiger optree. Elke tribunaal, kommissie of onafhanklike instelling wat die eenheid sedertdien ondersoek het, het tot die gevolgtrekking gekom dat die eenheid regmatig gestig is.

“Die ondermyning van die SAID se wetstoepassingsvermoë het plaasgevind terwyl die publiek gebombardeer is met stories oor die sogenaamde geheime eenheid. Dit was ook die middelpunt van die kaping van die instelling omdat, om dit eenvoudig te stel, diegene wat by die staat steel nie belasting wil betaal of hul wins uit misdaad wil prysgee nie,” het Hotz gesê.

Die drie sê hulle sal voortgaan om met die burgerlike samelewing saam te werk om die onwettige vloei van geld te stuit en integriteit by staatsinstellings te help herbou. Hulle het lede van die publiek bedank wat hulle die afgelope ses jaar gesteun het, asook amptenare van die NVG wat vreesloos hul werk gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter J ·

Dit is geensins ń pluimpie vir ons regstelsel dat dit solank geneem het om met die waarheid vorendag te kom nie.

henndrik ·

Dit bevestig net ons vermoede dat die regstelsel nie reg werk nie en nie onafhanklik is soos dit veronderstel is om te wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.