3 vas oor sakeroof, kaping

Die polisie het op elektriese kabels en springstowwe afgekom. (Foto: SAPD)

Drie verdagtes is buite Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by ’n sakeroof en kaping wat Woensdagaand in dié omgewing plaasgevind het.

Daar word intussen vermoed dat die verdagtes moontlik deel is van ’n misdaadsindikaat nadat die polisie beslag gelê het op onder meer gesteelde voertuie en springstowwe.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die drie verdagtes is vanoggend (Donderdag) in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes ’n voertuig wat by die beskrywing van ’n gekaapte wit Nissan NP300 pas in die omgewing van Mahwelereng Hospital View opgemerk het.

Die polisiebeamptes het dié voertuig deursoek en op onder meer ’n ongelisensieerde vuurwapen, ’n mes, 12 eenhede springstof en elektriese kabels afgekom.

Die eenhede springstof waarop daar beslag gelê is. (Foto: SAPD)

Die polisiebeamptes het ook op ’n tweede voertuig in die omgewing afgekom. Die oorsprong van dié voertuig sal deur die polisie se ondersoek bepaal word.

Die verdagtes, tussen 27 en 34 jaar oud, sal na verwagting Dinsdag voor die landdroshof in Mahwelereng verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde motorvoertuie, motorkaping, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, sakeroof en die besit van springstof.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiehoof, het intussen gewaarsku dat die polisie slaggereed is om misdaad gedurende die Paasnaweek te bekamp. Lede van die publiek word versoek om enige misdadige aktiwiteite in hul omgewing by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Ag nee wat, hulle is amateurs teen Zuma. Hy het nie eers springstof nodig gehad nie :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.