3 vas, een sterf in rooftog by bank

Van die note wat by die huis aangetref is. Foto: Verskaf.

ʼn Veiligheidswag is doodgeskiet toe bankrowers Woensdag in die vroeë oggendure op ʼn bank in Bosbokrand in Mpumalanga toegeslaan. Drie verdagtes is ná die bankroof in hegtenis geneem.

Die polisie is Woensdag omstreeks 03:00 in kennis gestel van ʼn bankroof wat besig was om plaas te vind by die Standard Bank in die Bushbuckridge-winkelsentrum.

Volgens kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het die bankrowers glo deur die dak toegang tot die bank verkry en twee kitsbanke met ploftoestelle oopgeblaas. ʼn Onbevestigde bedrag kontant is tydens die rooftog gesteel.

“Polisiebeamptes en veiligheidswagte het onmiddellik na die toneel beweeg. Die verdagtes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Een veiligheidswag is in die kruisvuur deur ʼn verdagte doodgeskiet,” het Sekgotodi gesê.

Die taktiese reaksie- eenheid en die polisie in Hazyview het inligting opgevolg en drie verdagtes, tussen 37 en 52 jaar oud, is in Hazyview vasgetrek. “Daar is ʼn groot hoeveelheid kontant in hul besit gevind tydens die inhegtenisneming.”

Sekgotodi het gesê die verdagtes is oorspronklik van Middelburg afkomstig.

Inligting omtrent die verdagtes het beamptes gelei na Shatale, noord van Bosbokrand, waar daar beslag gelê is op ʼn Ford Ranger wat verlede week in Calcutta in Mpumalanga gekaap is en ʼn Toyota-enkelkajuitbakkie wat tydens die uitvoer van die misdaad gebruik is.

Die ondersoek het beamptes verder gelei na ʼn huis waar daar R200-note, wat met ink bevlek was nadat die kitsbank oopgeblaas is, aangetref is. Daar is ook beslag gelê op dié note.

Die verdagtes sou vandag in Hazyview-landdroshof verskyn.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan brig. Ngwenya by 082 565 6417 of kol. Mokoena by 082 300 8315 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.