3 vas ná uitlatings by Baaise vulstasie

‘n Skermskoot van die video op sosiale media.

Drie mans het vandeesweek in die landdroshof in Port Elizabeth in die Oos-Kaap verskyn op verskeie aanklagte, waaronder crimen injuria, nadat hulle na bewering rassistiese opmerkings teenoor klante by ’n vulstasie in die stad gemaak het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring Sinethemba Plaatjies (33), Sibusiso Sigaca (24) en Siyabulela Xesibe (30) het Sondagaand klante van ’n winkel by ’n vulstasie naby Hobiestrand geteister.

Volgens Naidu het die drie mans ook glo items op die winkel se rakke beskadig waarna hulle na ’n nabygeleë strand gegaan het waar hulle glo mense verder geteister en gevloek het.

’n Video van die onderonsie in die Caltex-vulstasie se winkel is vandeesweek op sosiale media versprei. Daar kan in dié video gesien word hoe twee van die mans by die winkel se betaalpunt staan en opmerkings teenoor klante elders in die winkel maak.

‘n Skermskoot van die video op sosiale media.

Een van die mans sê dat hulle buite gaan wag en “die hele township gaan bring waaraan jul voorvaders ons onderwerp het”.

Die klante word dan “wit emigrante wat nie in die land hoort’, ‘kinders van Jan van Riebeeck’ en ‘rassiste’ genoem. Die klante word ook verskeie vloekwoorde toegesnou voordat een van die mans ’n winkelitem na die kamera gooi wat hulle afneem.

Volgens Naidu is die drie mans later in hegtenis geneem. Hulle het hulle egter teen inhegtenisneming teengesit en polisiebeamptes gevloek.

Die mans is sedertdien op borgtog van R300 elk vrygelaat en sal weer op 5 Februarie in die hof verskyn.

Die mans staan tereg op aanklagte van aanranding, verset teen inhegtenisneming, crimen injuria, dronk en wanorderlike optrede, openbare onsedelikheid en kwaadwillige saakbeskadiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ekke ·

Kom Afriforum en Solidariteit….laat hulle les opse! Slaan die euwel met die boek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.