3 vas wat glo ‘perlemoenlaboratorium’ bedryf

Argieffoto

Drie verdagtes het Donderdag in die Touwsrivier-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn nadat hulle vroeër die dag in verband met die bestuur van ʼn onwettige “perlemoenlaboratorium” in hegtenis geneem is.

Volgens kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, was daar ʼn aanloop van gebeure voordat Izak Strydom (42), Hugh Michael Stam (45) en Pieter Nel (32) eindelik gister vasgetrek kon word.

Nkwalase het aan Maroela Media verduidelik dat ʼn vragmotor met ʼn vrag perlemoen op 18 Februarie vanjaar deur die polisie op die N1-snelweg naby Rooikoppies in Noordwes voorgekeer is. Dié vragmotor het perlemoen van die Kaap na Gauteng via Touwsrivier vervoer.

Volgens Nkwalase is die bestuurder van dié vragmotor asook ʼn agterryer in verband met die vrag in hegtenis geneem waarna die polisie die saak aan die Valke oorhandig het.

Die Valke het daarna op ʼn “laboratorium” in ʼn pakhuis in Blackheath in Kaapstad toegeslaan waar die vragmotor aanvanklik die vrag perlemoen ter waarde van R4,3 miljoen gelaai het.

Die Valke het tydens die klopjag op die pakhuis in Wimbledonstraat op twee sleepwaens met vriesgeriewe afgekom.

Daar was ook dokumente en ander toerusting op die toneel. “Ná die klopjag het dit duidelik geword dat die fasiliteit gebruik word om onwettige perlemoen te droog,” het Nkwalase gesê.

Die vragmotor en pakhuis het toe die Valke eindelik na Strydom, Stam en Nel gelei, verduidelik hy.

Die verdagtes is elkeen borg van R20 000 toegestaan en sal weer op 9 Mei in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marous ·

R4.3 miljoen in een vrag en hulle kry R20 000 borg ? Die hele regstelsel is ‘n sirkus !

willem Botha ·

Hoekom is perlemoen so belangrik vir die “polisie”dat hulle dit beskou en hanteer as die prioriteit 1 misdaad in SA terwyl moord,huisroof,verkragting korrupsie nie geag word as ernstig nie ?

Cherokee ·

Dit word, soos Abe reeds gesê het Betsie, geëet. Wat smaak aanbetref, vind ek dit nogal ‘n feit dat die seekos-eters merendeels vanuit die binneland is. En of dit in hul smaak val en of dit terwille daarvan is dat dit soort van eksoties is, sal ek nie weet nie. Ek woon sowat 200 treë vanaf die strand en daar is min seekos wat ek nog nie geproe het nie. Ek sal baie maklik op vis besluit met ‘n spyskaart maar dit is die enigste kos uit die see wat ek geniet.

humor ·

Hoe kom die goed uit die see uit. Dit is ure lange harde werk wat baie sigbaar is. Waar is die verantwoordelikes om die kuslyn teen sulke stropers te beskerm. Hierdie plundering word onderdeur die tafel gedoen!!!!!!!!!!!!!!!!

Cherokee ·

In hierdie land is dit ‘n verskriklike risiko om ‘n perlemoen te wees!

humor ·

En nog n groter risiko om n boer te wees of selfs maar net wit te wees.

SêMaarNet ·

Die polisie konfiskeer die perlemoen, stoor dit tot na die hofsaak en verkoop dit dan op veiling. Daar is dus geen insentief vir SAPS om die proses te stop by die oorsprong nie, plus hulle is te bang vir die stropers by die see, aangesien hulle redelik goed bewapen is. Die kanse is ook goed dat van die SAPS lede baie goeie “vriende” het onder die stropers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.