3 vriende doodgeskiet, 2 gewond terwyl hulle kuier

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Vyf verdagtes is Dinsdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem ná ʼn skietvoorval aan die Oos-Rand wat tot die dood van drie vriende gelei het. Nog twee vriende is in dieselfde voorval gewond.

Sers. Lerato Mngomezulu, polisiewoordvoerder, het gesê die skietvoorval het Vrydagaand omstreeks 23:30 by ʼn huis in Caldoniastraat in Geluksdal (Tsakane) plaasgevind.

“ʼn Groep vriende het buite die huis gesit en kuier toe ʼn onbekende voertuig daar stilgehou en die insittendes op hulle losgebrand het. Die voertuig het daarna van die toneel weggejaag,” het Mngomezulu gesê.

“Vyf mans is geskiet. Twee is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die ander drie is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar een van die mans aan sy beserings beswyk het.”

Die Tsakane-polisie het ʼn volskaalse soektog na die skieters van stapel gestuur.

Die vyf verdagtes, onderskeidelik 20, 22, 32, 34 en 36 jaar oud, is Dinsdag om 01:00 deur die provinsiale ondersoekeenheid in hegtenis geneem. Hulle moet binnekort in die plaaslike landdroshof op aanklagte van moord en poging tot moord verskyn.

Die motief vir die aanval word nog ondersoek.

Kol. Johannes Maass, stasiebevelvoerder van die Tsakane-polisie, het die sukses toegeskryf aan die goeie samewerking tussen die beamptes van die stasie en die ondersoekeenheid. Hy het ook die gemeenskap bedank wat altyd bereid is om oortreders aan die pen te laat ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Al ·

As mens na die ouderdomme van verdagtes wie geweldsmisdade pleeg is dit jongmense en mense wat tot hul vroeë veertigs is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.