Ace Magashule, beleërde sekretaris-generaal van die ANC, het 30 dae grasie om opsy te staan, of hy sal ingevolge ʼn ANC-resolusie geskors word.
Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het Maandagaand na afloop van die party se NUK-vergadering opnuut gesê alle lede wat “van korrupsie of ander ernstige misdade aangekla word”, moet die tuig binne 30 dae neerlê.
Magashule – en 15 medebeskuldigdes – staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder bedrog, diefstal, korrupsie en geldwassery. Die saak teen hulle word in Augustus vanjaar in die hooggeregshof in Bloemfontein voortgesit.
Die aanklagte teen die sogenaamde asbes-beskuldigdes spruit uit ʼn R255 miljoen-kontrak om ʼn asbes-oudit in die Vrystaat te doen en asbesdakke van huise in die provinsie te vervang. Uiteindelik is nie ʼn enkele dak vervang nie.
Magashule was in daardie tyd die Vrystaatse premier.
“Die vergadering het benadruk dat die 30-dae-tydperk vir die inwerkingstelling van die besluit in ooreenstemming met die riglyne is; nié om die besluit te hersien nie,” sê Mabe.
Die NUK het ook ooreengekom dat die provinsiale voorsitters en sekretarisse met nasionale amptenare in hierdie tyd sal vergader om die riglyne verdere te verfyn om te verseker die ANC-resolusie doeltreffend en prakties in werking gestel kan word.
Die kantoor van die sekretaris-generaal sal saam met die provinsies werk om almal wat deur die besluit geraak word daaroor in te lig, sê Mabe.
“Die NUK het Magashule se besluit om die tyd te gebruik om die raad van oudleiers van die beweging te vra, verwelkom.
“Die NUK het ʼn beroep op alle ANC-lede gedoen om die besluit te steun en nie betrokke te raak by enige optrede van swak dissipline nie, insluitend deur die gebruik van openbare verklarings wat die inwerkingstelling van die konferensie se resolusie ondermyn,” sê Mabe.
Daar is reeds geruime tyd druk op Magashule om opsy te staan. Tydens sy hofverskyning verlede maand het hy, in antwoord op ʼn vraag of hy wel gaan gehoor gee aan oproepe om opsy te staan, geantwoord dat “onskuld in die hof bewys word”.
Daar heers groot verdeeldheid in die ANC tussen die sogenaamde hervormingsfaksie van pres. Cyril Ramaphosa en die radikale ekonomiese transformasie-faksie (RET) van Magashule.
Die NUK het egter ooreengekom dat geen ANC-lid hom behoort te assosieer of betrokke te raak by “die sogenaamde RET-magte nie. Voorts gaan die NUK nie enige lid of ANC-personeellid toelaat om die hulpbronne en perseel van die ANC te gebruik vir ʼn vergadering van die RET of enige ander faksie nie”.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
26 Kommentare
So ons het nog net n paar dae voor dit soos Mosambiek lyk.
So bly dit maar net ons skuld.
Watch this space…… Die man is soos ‘n neut en gaan nie sonder’n geveg net terugstaan nie. Ek dink die poppe gaan dans en die ANC raak meer verdeeld onder mekaar
Kan hy en die hele anc asb net “verdamp”
Die Rampokker gaan nie sonder n geveg opgee nie… Ek sien swaar tye kom… Hy is n groot Kopseer vir die ANC, en soos n Mafia Baas…