‘30 jaar’, hoor afgetrede prokureur se moordenaars

Hans Wessels is in Januarie verlede jaar in sy vakansiehuis op Kleinmond vermoor. (Foto: Verskaf)

Hans Wessels, die afgetrede prokureur wat verlede jaar in sy vakansiehuis op Kleinmond in die Wes-Kaap vermoor is, se moordenaars is Woensdag elkeen 30 jaar tronkstraf opgelê.

Denver Hendricks en Jonico Pretorius is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis nadat hulle ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê die beskuldigdes is elk 25 jaar tronkstraf op aanklag van moord en 15 jaar tronkstraf op aanklag van roof met verswarende omstandighede opgelê nadat hulle skuld op albei aanklagte beken het.

Tien van die 15 jaar sal egter gelyklopend met die vonnis van 25 jaar uitgedien word wat beteken dat Hendricks en Pretorius elk effektief 30 jaar tronkstraf sal moet uitdien.

Luidens hofstukke het Wessels op 26 Januarie 2021 by sy huis in Groenpunt, Kaapstad, in die pad geval na sy strandhuis in Kleinmond. Wessels het egter op pad daarheen vir Pretorius en Hendricks in Grabouw opgelaai.

Wessels is egter kort ná hul aankoms in Kleinmond in ’n slaapkamer in sy strandhuis oorval en aangerand.

Wessels is verskeie kere met ’n asbak bygedam en het beserings aan sy hande, gesig, nek en kop opgedoen.

Sy hande en voete is met onder meer elektriese kabels vasgebind voordat sy moordenaars beddegoed en ’n matras oor hom gegooi het.

Maroela Media het vroeër berig Hendricks en Pretorius het ná die aanval met Wessels se selfoon en klere in Wessels se Porsche Cayenne op die vlug geslaan. Hulle het die voertuig toe in Laingsburg vir ’n bedrag van R50 000 probeer verkoop nadat die motor se brandstof opgeraak het.

Die polisie het hulle ’n dag ná die moord in Laingsburg aangekeer. Die twee mans het Wessels se klere aangehad ten tyde van die inhegtenisneming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

Wel dis goed maar wat leer ons uit hierdie tragedie. Doen net goed aan die wat jy ken en vertrou, die res mag dalk jou lewe neem. Dis waar ons land nou is.

Niklaas ·

Om deesdae nog rylopers op te laai , is erge moeilikheid soek. Die onskuldiges moet maar ander plan maak. Die potensiële gevaar om beroof of vermoor te word is net te groot.

Jannie van Niekerk ·

Ons regstelsel is ‘n grap. Oor vier en ‘n half sekondes loop die spul weer buite rond en vermoor verder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.