30 leerders beseer toe trok omslaan

Die meeste van die kinders is kritiek beseer. (Foto: Verskaf)

Altesame 30 leerders is Donderdagoggend beseer toe die vragmotor wat hulle skool toe sou neem, omgeslaan het.

Die vragmotorbestuurder het na bewering die spoedgrens oorskry en ʼn ongeluk veroorsaak wat die meeste van die leerders in ʼn kritieke toestand gelaat het.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, sê die leerders was om 07:00 in die Mutale-omgewing op pad skool toe, toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Die vragmotor se bak, waarin die meeste van die kinders gesit het, was nie bedek nie en gevolglik is 20 van die leerders in ʼn kritieke toestand ná die ongeluk. Die ander tien leerders het met ernstige beserings daarvan afgekom. Dit is nie bekend hoe oud die leerders is nie.

Nooddienste is ontbied en al die leerders is na die Donald Fraser-hospitaal geneem.

“Dit is betreurenswaardig dat ons só vroeg in die dag van so ʼn ongeluk te hore gekom het, maar ons is dankbaar dat daar geen sterftes aangeteken is nie,” sê Lerule-Ramakhanya.

Sy het bestuurders met ongeregistreerde voertuie gewaarsku dat owerhede op hul spoor is, aangesien hul wetteloosheid talle leerders se lewe in gevaar stel.

“Ek wil beklemtoon dat alle motoriste wat leerders vervoer die nodige registrasieprosesse by die departement van vervoer moet deurgaan. Ons het reeds operasies van stapel gestuur om ongeregistreerde voertuie van die pad te verwyder.”

Wetstoepassing sal nou in spesifieke gebiede in die provinsie verskerp word om die veiligheid van leerders wat staatmaak op openbare of gereëlde vervoer, te verseker.

Sy het bygevoeg dat ouers ʼn verantwoordelikheid het om te let op die soort voertuie waarmee hul kinders vervoer word, sodat hulle veilig hul bestemming bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert

Is hartseer dat dit gebeur, maar nog groter hartseer dat soveel kinders nie behoorlik vervoer word deur die dept nie. Hordes kinders is afhanklik van n “geleentheid” om by die skool te kom. Probleem is, dit word nie aangespreek solank daar niks gebeur nie, maar as daar iets soos die gebeur is almal ore in die nek teen die bestuurder en nie die dept nie.
Die dept moet nie vingers wys nie maar verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Kobus

ANC kon steeds na hoeveel jare van “demokrasie” nie daarin slaag om put toilette te vervang en skoolkinders veilig by skole kry nie. Gister se ” Vryheidsdag” het wat beteken? Die arme mense het wel politieke vryheid gekry maar verseker nie ekonomiese vryheid nie. En dan kom stemtyd, T-Hemde en kospakkies en baaaaaie beloftes.

Francois

Motoriste sien daagliks die oortredings,maar dit is net nie maklik om dit dadelik te rapporteer nie. Onderwys Dept – skep n app om die goed te kan rapporteer(maar hulle stel nie eintlik belang in leerder veiligheid nie?)

Onnie

Ek wonder as dit nou n boer was wat 30 werkers agterop ‘n trokkie vervoer het….?? Dan was daar weer perde!

Johan

Trok? Trok se voet. Dit is ‘n bakkie wat hoogstens 10 mense kan vervoer as dit ‘n kap op het