30 vas in Limpopo oor onwettige vuurwapens, gesteelde motors

Foto verskaf deur Limpopo SAPD

Die polisie in Limpopo het beslag gelê op ʼn groot hoeveelheid onwettige vuurwapens en gesteelde motors en verskeie persone is in hegtenis geneem tydens ʼn teen-misdaadoperasie die afgelope naweek.

Die provinsie het ʼn groot aantal misdaadvoorvalle beleef waar onwettige vuurwapens gebruik is, insluitend gewapende rooftogte, huisbrake, plaasaanvalle, sakerooftogte en moorde, het lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Diefstal en kaping van motors is ook ʼn probleem. Individue, ondernemings en huise word geteiken.”

ʼn Gesamentlike operasie is die naweek tot Sondagoggend uitgevoer met die fokus om “hierdie misdaadkategorieë uit te roei”, het Ngoepe bygevoeg.

Altesaam 30 verdagtes, tussen 21 en 47 jaar oud, is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op 12 ongelisensieerde vuurwapens, 75 patrone vir verskeie vuurwapens, twee vuurwapenmagasyne, drie gesteelde motors, een gekaapte motor, een enjin wat uit ʼn Volkswagen gesteel is en een motor wat deur misdadigers gebruik is om misdaad te pleeg. Die geraamde waarde van die motors, insluitend die enjin, beloop R1,1 miljoen.

Die vuurwapens en motors is in Mahwelereng naby Mokopane (Potgietersrus), Musina, Maake naby Tzaneen, Thohoyandou, Nebo naby Groblersdal, Morebeng naby Polokwane (Pietersburg), Roedtan naby Modimolle (Nylstroom), Ritavi naby Tzaneen, Motetema naby Groblersdal, Burgersfort en Lephalale (Ellisras) gevind.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het weer die inwoners van die provinsie verseker dat die polisie nie sal rus totdat alle onwettige vuurwapens van die strate verwyder is nie, en het die publiek aangemoedig om ten alle tye met die polisie saam te werk.

Hy het die span beamptes van die verskeie polisie-eenhede geloof wat aan die skoonmaakoperasie deelgeneem het.

Die persone wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die verskeie landdroshowe verskyn. Die polisie se ondersoek duur voort, het Ngoepe bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lorieka ·

Puik bly daar is van ons sap lede Wat nog die moeite werd is

Ai ·

Fantasties, hoop dit word alles vernietig voor korrupte polisie lede dit laat “verdwyn” vir n vakansie bonus of die kriminele die polisiestasie beroof…

Andre ·

Fantasties!
Ek bid dat julle operasies so suksesvol sal voortgaan.

MANIE ·

Maak net seker die wapens vind nie weer hulle pad terug na die kriminiele

al ·

Dankie SAPD vir jul puik en uitstekende diens! Julle gee ons weer moed vir die stryd teen sinnelose moorde!

anton ·

As ek so n berig lees elke dag vir die volgende tenminste 6 maande sal ek bietjie opgewonde raak oor die SAP se pogings.
Anders sal en kan ek nie juis opgewonde raak nie.

Tammy ·

Baie geluk aan al die betrokkenes vir julle uitstekende speurwerk. Met sulke resultate kan die land wel gered word. Hou aan om die misdadigers aan te keer en tot verantwoording te bring!!

Wouter ·

Van die pistole en ammunisie is staats wapens. Lyk soos SAPD wapens. Dan is daar ook R4 of 223 rondtes wat ook staats ammo is?

Mari ·

Dankie SAP. Wonderlike werk. Daar lyk my brand n lig voor in die donker tonnel waarin ons land verkeer. Ons gebede met julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.